Ontdek die natuur se medisyne

Lezanne Shone. Foto verskaf.

Vir Lezanne Shone is essensiële olies nie net ’n produk nie, maar ’n leefwyse wat oor jare deel van haar daaglikse roetine en persoonlike welstand geword het.

Lezanne, is ’n landstigterslid vir dōTERRA- essensiële olies in Suid-Afrika, maar woon in Oudtshoorn. Na ’n ernstige motorongeluk 14 jaar gelede met kroniese pyn as nagevolg, het haar reis na beter, gesonder en alternatiewe produkte begin en dit is hier waar sy ses jaar gelede ’n pad saam met dōTERRA begin stap het.

Essensiële olies speel ’n waardevolle rol in lewe, veral as deel van ’n holistiese benadering tot welstand. Sy verduidelik dat meer mense na natuurlike alternatiewe kyk om uitdagings soos stres, spanning, moegheid en slaapversteurings te help verlig.

“Essensiële olies kan ’n ondersteunende rol speel in mense se daaglikse welstand, en word op verskeie maniere gebruik,” sê sy.

Dit kan aangesmeer, gedrink en selfs gediffundeer (diffuse) in die lug word.

Sekere essensiële olies kan selfs help met om kroniese kondisies en simptome te verlig, wanneer die regte kombinasies op verskeie maniere aangewend word.

Essensiële olies word uit plante onttrek en bevat die plant se natuurlike verbindings, unieke geur en eienskappe. Dit word wêreldwyd gebruik in aromaterapie en as deel van alternatiewe en aanvullende welstandpraktyke, maar nie alle olies is dieselfde gehalte nie.

“Baie produkte wat in algemene winkels beskikbaar is, is nie suiwer of volledig getoets nie. Sommige word verdun of met sintetiese bestanddele gemeng,” verduidelik sy. “Wanneer ’n olie nie suiwer is nie, kan dit minder effektief wees en selfs ongewenste reaksies veroorsaak.”

Sy beklemtoon dat kwaliteit, oorsprong en streng toetsings bepalend is vir hoe ’n olie op die liggaam reageer.

Lezanne sê haar passie lê veral daarin om mense meer te leer oor hoe om essensiële olies veilig en verantwoordelik te gebruik. Sy beklemtoon dat dit nie noodwendig konvensionele medisyne vervang nie, maar wel as deel van ʼn breër benadering tot selfversorging gebruik kan word.

“Vir my gaan dit daaroor om mense te bemagtig met kennis en hulle te help om bewus te raak van natuurlike opsies wat hul lewenskwaliteit kan verbeter,” sê sy.

Oor die jare het sy gesien hoe meer mense belangstel in natuurlike produkte en maniere om hul gesondheid op aanvullende nie-chemiese maniere te ondersteun. Sy glo hierdie groeiende belangstelling weerspieël ʼn breër skuif na ʼn meer geba-lanseerde en bewuste leefstyl veral omdat mense meer inligting voor hul beskikbaar het met die internet.

Die naam dōTERRA beteken “Geskenk van die Aarde”, iets wat volgens haar die hart van hierdie beweging vasvang.

Sy bly steeds passievol daaroor om haar kennis met ander te deel en mense te help om ingeligte keuses oor hul welstand te maak.

“Dit is vir my besonders om te sien hoe mense weer met die natuur verbind en ontdek hoe eenvoudige, natuurlike elemente ’n positiewe verskil in hul daaglikse lewe kan maak,” sê Lezanne.

Kontak Lezanne gerus vir meer inligting by 072 333 2464. (ANGELIQUE ERASMUS)