’n Groen tuiste met spekbome, koorsbome en klapperbosse

BY Miles Guesthouse op die hoek van Kerkstraat en Jan van Riebeeckweg op Oudtshoorn is ’n groen paradys in die droogte geskep met duisende spekbome, ’n laning koorsbome, laventelbosse en ander geharde plante.

Volgens Lana Miles, wat saam met haar ouers George en Hannetjie die gastehuis bestuur, het die gebrek aan water tydens die droogte hulle gedwing om nuut te dink oor iets soos gras.

Hulle het besluit om die netjiese grasperke voor die huis te vervang met talle beddings spekbome wat gesnoei word en die hele jaar lank groen is. Die beddings spekbome word deur die tuin omsoom met klippe uit die omgewing.

Hul eerste spekbome het hulle baie jare gelede geplant, soos ook die ry koorsbome met hul liggroen stamme langs Kerkstraat en die geharde klapperbosse aan die agterkant van die huis langs Jan van Riebeeckweg. Die droogte het hulle egter genoop om nog meer spekbome te plant.

Hulle het nie ’n geheim met die klapperbosse wat agter die huis floreer nie, sê Lana. Klapperbosse is lief vir son en ’n droë klimaat en dikwels langs paaie in die Klein Karoo te sien, maar be­kend daarvoor dat hulle stadig groei en sukkel in tuine, veral as hulle gepamperlang word. Lana sê die stuk grond waar hulle in die tuin groei, is opgevul met klip en grond, en bied blykbaar ’n ideale habitat vir dié bome om te gedy. (Deur Liesel le Roux)