
Joseph Harmse kry sy inenting by suster Maritz.
DIE Kangovalleie Landbouvereniging, wat die gebied vanaf Buffelsdrift, Schoemanshoek en Boomplaas tot by Matjiesrivier bedien, het onlangs ver- seker dat almal wat daar op plase werk en woon die kans kry om hul Covid-19-inenting te ontvang.
“Landbouers is een van die grootste werkverskaffers in die Oudtshoorn-distrik, en ons kan nie bekostig dat mense binne ons bedryf nie by klinieke of inentingsgeleenthede uitkom nie,” sê Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die vereniging. “Ons het besluit om drie geleenthede te skep waar plaaswerkers en bewoners op plase hulle kan laat inent, sou hulle dit graag wou doen.”
Aangesien die vereniging so ’n wye bedieningsgebied het, is sale beskikbaar gemaak in Matjiesrivier (met die vergunning van Swartberg Country Manor), Boomplaas (by een van die landbouers se skure) en Schoemanshoek (by die kerksaal). Boere het saamgewerk om te sorg dat hul werkers en gesinslede by die sale kon uitkom.
Suster Miemie Maritz en haar span het saam met die sekretariaat van die vereniging gewerk om seker te maak dat hierdie inentings glad verloop. Thandi van Thura was ’n “yster” met die admin, en suster Miemie het gesorg vir die vaksines, vaksinering, IT en personeel.
Die grootste groep ontvangers van die inentings se ID-nommers en inligting wat nodig is vir registrasie is vooraf bymekaargemaak, wat die hele proses baie vergemaklik het.
“Ons is baie bly om te kan berig dat ons by hierdie drie geleenthede 405 mense ingeënt het. Die samewerking van die vereniging en hul lede was merkwaardig – ons het selfs ’n worsbraai kon doen ná afloop van een van ons besoeke waartydens ons vir ons personeel ook darem kon dankie sê vir die werk wat hulle doen,” vertel Janse van Rensburg.
Joseph Harmse, ’n plaaswerker van Schoemanshoek, meen dit is baie belangrik dat mense die inenting moet ontvang – nie net vir jou eie gesondheid nie, maar ook om die mense om jou te beskerm. “Ek sê baie dankie vir die geleentheid om sommer naby my werk te kom vir die inenting,” het hy gesê.
Kangovalleie Landbouvereniging, met sowat 40 aktiewe lede, voel baie sterk oor vennootskappe. “Daar is geen manier hoe ons sonder vriende en vennote ’n verskil in ons gemeenskap kan maak nie. Ons is baie dankbaar vir suster Miemie en haar span wat ons gehelp het om hierdie poging suksesvol te kon laat afloop,” sê Janse van Rensburg.