IN Oktober fokus Kansa op die belangrikheid daarvan dat vroue eienaarskap moet aanvaar vir hul gesondheid. Volgens statistiek van die Nasionale Kankerregister (NKR) 2014 is die topvyf kankers onder Suid-Afrikaanse vroue borskanker; servikale kanker, kolorektale kanker, baarmoederkanker en longkanker.
Borskanker: Suid-Afrikaanse vroue se leeftyd-risiko vir borskanker is 1 in 27. Op Vrydag 26 Oktober bied Kansa Sorgsentrums landwyd ’n kliniese Borsondersoek-siftingsdag aan. Vroue sal die dag geleer word hoe om self borsondersoeke te doen en professionele verpleegkundiges sal kliniese borsondersoeke doen.
Elize Joubert, uitvoerende hoof van Kansa, sê dit is belangrik om vroue te bemagtig met kennis hoe om risiko’s vir kanker te verlaag en kennis te neem van waarskuwingstekens. “Ons moedig vroue aan om maandeliks self borsondersoeke te doen, jaarlikse mediese ondersoeke te ondergaan en gereelde siftingstoetse vir kanker te laat doen. Dit kan vroeë opsporing verbeter omdat simptome nie altyd ondervind word voordat die kanker versprei het nie.”