
So lyk Ronald Stevens se permakultuurtuin. Hy het tans byna 20 gewasse wat hy aangeplant het,
en beplan om nog meer te plant. Foto: Stefan Skapie Goosen
OM ’n permakultuurtuin, of permaculture garden, van niks af op ’n lappie grond in die middel van ’n dorp te begin is makliker as wat meeste mense dink. Die belangrikste is om ’n kopskuif te maak, sê Ronald Stevens (30) van Oudtshoorn.
Die resultaat kan die toekoms van voedselvoorsiening in kleiner gemeenskappe verseker.
Stevens is ’n gebore Oudtshoorniet met ’n geskiedenis in die “groen”-bedryf. Hy het deur die manier hoe sy ouers hom grootgemaak het, deur sy na-skoolse studies in besigheid en finansies en met ondervinding by onder andere die nie-winsgewende organisasie Greenpop geleer en besef dat om jou eie groentetuin deur middel van permakultuurbeginsels aan te plant ’n groot aanwins vir die samelewing kan wees.
“My ware liefde en waardering vir die konsep van permaculture, om ’n aktiewe gemeenskapslid te wees en die vermindering van jou eie ‘afval’ het gekom nadat ek vir 18 maande ’n gemeenskapsprojek in KwaZulu-Natal op die been probeer bring het.
“Met my terugkeer in 2015 het ek besef ek wil iets impakvol doen met my lewe. Dit is toe dat ek by Greenpop in Kaapstad aangesluit het,” vertel hy.
Hy het van 2016 tot 2018 vir Greenpop gewerk, en dit is hoofsaaklik hier waar hy die kuns van permakultuur aangeleer het; om jou eie voedsel te kweek en daardeur minder afhanklik te wees van die algemene voorsieningsketting van voedsel wat staatmaak op “fossielbrandstof” om aan die gang te bly en natuurlike hulpbronne van die aarde ontneem.
Een van die beginsels van permakultuur is die voorsiening aan en deelname van die gemeenskap rondom jou.
Stevens, wat in een van Oudtshoorn se buurte in die omgewing van Jan van Riebeekweg woon, het nou al so ver gevorder dat hy sy bure betrokke gekry het by die groentetuin wat hy aanplant. Hulle gee weekliks hul organiese “rommel” vir hom om in sy komposhoop te gooi wat dan gebruik word om sy groentetuin te voed.
Almal baat daarby. Hulle gee vir hom tuin- en kombuisrommel, wat dan afgebreek word en in kompos verander word deur sy erdwurmplaas.
“Dit gaan alles oor voedselsekerheid vir die toekoms.
“Ons kan nie vir ewig op grootskaalse, enkelgewas-groenteboere staatmaak nie.
“Ons omgewing en natuurlike hulpbronne gaan dit nooit maak nie. Daarom moet ons aan unieke, vindingryke maniere dink om groentetuine aan te plant en te onderhou, wat nie natuurlike hulpbronne op ’n groot skaal plunder nie,” sê Stevens.
Die aanvanklike werk om so ’n permakultuurtuin te begin mag dalk harde werk wees, sê Stevens, maar die voordele vir die natuur en die gemeenskap maak dit die moeite werd.
Jy gebruik meerendeels herwinbare materiaal, opgevangde reënwater of gryswater, en ander natuurlike hulpbronne – soos byvoorbeeld ’n erdwurmplaas van jou eie – om die tuin te voed, op te bou en aan die lewe te hou.
“Daar is baie verskillende maniere om met die minste moontlike materiaal en water jou eie groentetuin aan te plant. Mense moet net ’n kopskuif maak en anders daaroor begin dink,” sê Stevens.
Volgens Stevens word die konsep van permakultuurtuine regoor die wêreld toegepas, in verskillende weersomstandighede en -toestande. Dit word suksesvol gebruik om gemeenskappe te voed, veral in ekonomies-agtergeblewe gebiede. “Ons kan nie meer op ’n onvolhoubare manier lewe nie en die konsep van permakultuur kan ongelooflik baie voordele vir almal inhou – selfs vir grootskaalse boere.”
• Hou Die Hoorn dop vir toekomstige berigte oor hoe om jou eie permakultuur-groentetuin te begin en te onderhou. (Deur Stefan Skapie Goosen)