
Tony Coerecius wroeg om plek te maak vir een van die bome in Oudtshoorn se harde grond.
’N ORGANISASIE op Oudtshoorn wat hom be-ywer om bruin en swart besigheidseienaars en die gemeenskap op te hef, Oudtled Taskforce, het gister (24 Maart) hul eie boomplant-inisiatief op die been gebring by die ingang na Bridgton.
Lede van Oudtled het dié dag begin met die plant van 15 doringbome by die ingang in Voortrekkerweg, en beoog om binnekort ’n klip-en-vetplanttuin daar by te voeg.
Volgens Jonathan Vaas van Oudtled is die gedagte nie net om die ingang na Bridgton te verfraai nie, maar ook dat die gemeenskap eienaarskap van die omgewing moet neem.
“Hier is geen bome hier nie en dis so vaal, maar mens sien bome oral in die dorp. Dit hang van ons as gemeenskap af om bome hier te plant, want ons kan nie vir iemand anders wag om dit te doen nie,” het hy gesê.
Volgens Vaas is hierdie net die begin, en wil Oudtled saam met die gemeenskap oop stukke grond in die omgewing identifiseer waar hulle iets soortgelyk kan doen. “Hierdie oop stukke grond word nou net as ’n ‘dump’ gebruik, maar ons wil dit vir die gemeenskap terugvat en iets doen om die area op te hef,” het hy bygevoeg.
Volgens Vaas sal daar altyd iemand wees om na die bome om te sien. “Dit sal óf een van ons lede wees, óf die gemeenskap hier rondom – ons het hulle reeds genader om hand by te sit.” (Deur Stefan Skapie Goosen)