DIT is vakansietyd vir baie, maar met die huidige beurtkrag wat tans aan die gang is, wonder jy of al jou elektriese toestelle dit gaan maak terwyl jy met vakansie is. Hier is so ’n paar wenke wat jou kan geld spaar gedurende beurtkragperiodes.
• Skakel alle elektroniese/elektriese toestelle wat nie gebruik word nie af en verwyder die kragprop uit die muur. Maak seker jy sit nie jou yskas of vrieskas per ongeluk af nie – dit is as jy nou met vakansie gaan.
• Skaf vir jou ’n stuwingbeskermer (surge protector) aan en koppel dit aan jou yskas, vrieskas en jou alarmstelsel. Jy kan een kry wat ’n enkele toestel beskerm vir rondom R200. Jy kan ook een installeer in jou verdeelbord (distribution board) wat jou hele huis beskerm, maar hulle is heelwat duurder en jy moet ’n elektrisiën kry om dit te kom installeer. Daar is tans ook goeie veelvoudige propverdelers wat oor ’n ingeboude kragstuwing-funksionaliteit beskik.
• Jy kan ook vir jou ononderbroke elektriese toevoer (’n UPS) aanskaf en jou rekenaars en TV’s daaraan koppel. Die toestel haal ook die stuwings uit die elektriese toevoer.
• Maak seker jou alarmstelsel se battery kan die tydperk van die beurtkrag die pas volhou. Jy mag dalk ’n nare verrassing kry indien jou alarmbattery nie sy werk gedoen het nie en jy rot en kaal besteel word.
• Die nuwe “smart” TV’s en rekenaars moet korrek afgeskakel word, anders kan komponenete beskadig word met al die beurtkrag.
Indien jy die vakansie met Jan Tuisbly se karretjie gaan ry, kan jy net eenvoudig jou toestelle afskakel en ontkoppel voordat die elektriese toevoer weer aangeskakel word. Gee so 10 tot 15 minute tyd nadat die elektriese toevoer herstel is voordat jy toestelle weer aanskakel. ’n Ander opsie is om al die skakelaars op die verdeelbord af te skakel – moenie die ligte afskakel nie en ook nie die hoofskakelaar nie. Die ligte gaan jou wys wanneer die toevoer herstel is.
Maak seker jou versekering dek skade wat veroorsaak word deur kragstuwing (power surge) na ’n beurtkragsessie.
Nog ’n paar wenke om te onthou:
• Hou jou selfoon/telefoon volgelaai.
• Gebruik ’n gaslamp om ’n groot area te belig.
• Probeer om etes voor die tyd voor te berei.
• Maak seker kerse wat jy vir lig gebruik, is buite bereik van klein kinders.
• Kook water en hou dit in ’n warmfles en gebruik soos nodig.
• Belê in ’n gas-kookkop sodat jy kan kos maak.
• Belê in kragstuwingbeskermers vir al jou belangrike toestelle.
• Vries water in bottels en sit dit in die yskas wanneer die krag afgaan. Dit help om die inhoud van die yskas koud te hou.
• Moenie jou yskas of vrieskas onnodig oopmaak gedurende beurtkrag nie.
• Sorg dat jy ’n kers of flits byderhand het.
• Hou ekstra batterye byderhand.
• Maak seker jy weet hoe om jou elektriese motorhuis-oopmaker met die hand oop te maak as die krag vir lang tydperke af is. Dit geld ook vir jou elektriese motorhek.
• Maak rugsteunlêers van al jou belangrike inligting/data vir indien jou rekenaar dalk breek agv kragonderbrekings. Stoor dit waar dit veilig is. Jy kan dit ook aanlyn by Google Drive, OneDrive of Dropbox stoor. (Deur Heinrich Bosman)
Beurtkrag: wees veilig en voorbereid
Maak tydens periodes van beurtkrag altyd seker dat jy jou selfoon asook byvoorbeeld batterye, jou “power bank” en ander herlaaibare toerusting laai.