Klein Karoo gereed vir die somervakansie!

HY is opgewonde daaroor dat die talle stoprypunte tussen Oudtshoorn en George nou iets van die verlede is, sê Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hotel op Oudtshoorn en die junior vise-president van Skål International.
Skål is ’n professionele organisasie bestaande uit toerismeleiers van dwarsoor die wêreld.
“Die pad is nou ’n absolute plesier om te ry,” voeg Els by en maak dit maklik om van die kus af in Oudtshoorn en die Klein Karoo te kom kuier.
Vanaf 15 Desember sal daar ook net een stoprypunt op die pad tussen Oudtshoorn en De Rust wees.
Die pad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp is ook vroeër vanjaar opgegradeer.
“Toegangsroetes na Oudtshoorn is amper weer normaal,” sê Els.
Hy sê hy is egter nog bekommerd oor die toe­stand van die historiese Swartbergpas.
“Die pas is een van die grootste besiens­waar­digheid in die area, veral hierdie tyd van die jaar.”
Volgens Els is die besetting van sy hotel vanjaar laer as vorige jare, maar is dit ’n landswye tendens.
“Internasionale toeriste kom eers volgende jaar na Suid-Afrika, en toer nie sommer oor Kersfees nie.
Hy voeg by dat Oudtshoorn goed lyk en dat hy en sy span reg is vir plaaslike toeriste van oral oor land.
Alison Moos, waarnemende operasionele bestuur­der van die Kango Grotte, sê dié ikoniese toerismebestemming se personeel is ook gereed om plaaslike en internasionale toeriste vir die vakansieseisoen te verwelkom.
“Ons hoop om groot getalle mense hier te verwelkom!”
Tammy Moult, assistent-direkteur van die Cango Wildlife Ranch en voorsitter van die Oudts­hoorn en De Rust Toerismebestuur, sê die toerismekantoor is reeds geruimte tyd besig om voor te berei vir die toerismeseisoen.
“Gesamentlik moet ons alle geleenthede benut om voete na ons pragtige dorpe te vermeerder en om mense langer in ons omgewing te hou – veral met inagneming van hoeveel aktiwiteite ons hier het om te bied.”
Moult sê dat toerisme tans oral ’n afwaartse kurwe toon, maar dat hul uitsien om te sien wat die maand gaan bring.
“Besprekings in die streek is laer as die vorige jare, maar volgens November se statistiek is die gemiddelde bedrag wat toeriste spandeer, meer per persoon.”
Vanjaar het die Toerismeburo ’n spesiale brosjure laat druk wat 10 afslagkoepons bevat vir gesinsaktiwiteite in die area. Dit kan afgehaal word by die Toerismeburo en by die Cango Wildlife Ranch. Daar is ook ’n beperkte aantal koepons beskikbaar vir plaaslike gesinne.
“Daar is voorts Saterdag op 14 Desember ’n uitdeelpunt in De Rust wees, waar sakkies met informasie en spesiale aanbiedinge aan vakansie­gan­- gers uitgedeel sal word.”
Op De Rust het toerisme reeds toegeneem, sê Niekie Eksteen, mede-eienaar van die Village Trading Post. Volgens Eksteen het hulle reeds ,die vorige week besig begin raak.
“Ons het ons dansskoene aan sodat ons elke dag bietjie vinniger kan gaan!” sê hy.
“Ons hou nooit op met planne maak nie, en het reeds baie besprekings vir ons Kersete. Dis regtig wonderlik, ons is werklik geseën!”
Ook op Calitzdorp raak dit al besiger.
Boets Nel, eienaar van een van Calitzdorp se spogkelders, De Krans, sê hulle is opgewonde omdat dit reeds begin besiger raak.
“Die getal besoekers tel gewoonlik op teen die komende naweek wanneer fabrieke sluit en mense op vakansie gaan.”
Hy sê hulle verwag ’n beter seisoen as die vorige jaar omdat hierdie vakansie langer is.
“Vakansiegangers is welkom om te kom kuier en gasvryheid in die Klein Karoo kom geniet,” voeg hy by. Daar is baie meer as net wynproe by die kelders in Calitzdorp, met eetplekke asook kindervermaak. (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "Klein Karoo gereed vir die somervakansie!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*