Vadersdag word Sondag, 16 Junie 2024 gevier, en dit is die perfekte geleentheid om jou pa te bederf en te wys hoeveel hy vir jou beteken. Ons het ’n paar wenke om hierdie dag baie besonders te maak.
- Bespreek vir hom ’n lekker massering. Pa’s dra nie net hul kinders se belange op die hart nie, maar ook hul bekommernisse, hul hartseer, hul veiligheid en hy sorg ook finansieel vir dit wat sy kinders nodig het. Van klere tot geld vir daardie sporttoer wat betaal moet word. Daarom is dit nodig dat hy lekker ontspan en al die stres uit sy skouers gevryf word met ’n lekker massering. Hy sal sommer soos ’n nuwe mens voel.
- Ontbyt in die bed. Daar is niks lekkerder as om bederf te word met ’n heerlike bord ontbyt in die bed nie. Spek, eiers, bros roosterbrood met egte botter, bruingebraaide worsies, goue skyfies en ’n lekker koppie stomende koffie. ’n Ander alternatief is om sy gunsteling maaltyd voor te berei – al sy gunsteling kosse op een bord, of gaan eet by ’n restaurant wat spesiaal al die pa’s wil bederf met ’n spyskaart net vir Vadersdag.
- Doen wat vir pa lekker is. Kyk sy gunsteling program of fliek, of werk saam met hom in die tuin. Dis altyd ’n spesiale tyd saam met pa, wat sal sorg vir genot en spesiale herinneringe.
- Maak vir hom ’n kaartjie. Wat is mooier as om te sê jy is spesiaal as jou eie unieke kaartjie wat uit jou hart kom.
- Sertifikaat vir die beste pa in die wêreld. Sit dit in ’n mooi raam langs sy bed, of hang dit teen die muur op sodat almal kan sien jy spog met jou pa. Daar is talle voorbeelde op die internet wat afgelaai en aangepas kan word.
- Bederf hom met iets lekkers. Laat ’n “hamper” maak met ’n verskeidenheid lekkernye soos biltong, droëwors, neute, gedroogde vrugte, ietsie soets en ’n drinkdingetjie. So kan jou pa lekker peusel en hopelik met die res van die gesin ook deel.
- Sokkies, dasse en reukwater. As jou pa van dié soort ding hou, is dit altyd lekker om vir hom iets te gee wat hy kan gebruik. Hy sal ook elke keer as hy dit sien aan jou dink.
- Gee vir hom die dag af. Vadersdag is sy dag om te rus en dit te geniet. Bied aan om te braai, en laat hom lekker ontspan.
Onthou – elke dag is ’n geleentheid om vir jou pa te wys hoe baie hy vir jou beteken. Sê vir hom hoe gelukkig julle is dat hy julle pa is, en hoe baie julle hom waardeer. Ons pa’s is immers ons eie superhelde.