’n Artikel deur dr Wessel Vermeulen, algemene praktisyn van Oudtshoorn en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, oor aandagafleibare sindroom en leerders op skool in verlede week se uitgawe van Die Hoorn het baie aandag getrek. Vandeesweek skryf dr Vermeulen verder.
Ter inleiding – ’n opsomming van verlede week se artikel
• Weens redes soos toenemende en veranderende eise, omstandighede en verwagtinge is daar ’n kommerwekkende toename in die gebruik van stimulante vir aandagafleibaarheid.
• Studies toon dat 2,1% van leerders 15 jaar gelede medikasie in die een of ander vorm gebruik het, maar dat dit deesdae tot so hoog as 5,7% is in sekere prestigeryke en meer gegoede dele van die Westerse wêreld. Dit wek kommer dat al meer suksesvolle en vermoënde ouers se kinders die middels gebruik.
• In lande soos Japan, Thailand en China wat van die “slimste” kinders op wiskundige vlak ter wêreld het, word die middels selde indien ooit gebruik.
• Stimulante moenie ondeurdag en sonder deeglike evaluering deur opvoedkundige sielkundiges en arbeids-terapeute in samewerking met die op- voeder en pediater gebruik word nie.
• Middels vir ADS by normale kinders en studente kan tot katastrofiese gevolge lei. Daar kan ernstige newe-effekte wees.
• Realisteise eise en opdragte moet aan kinders gegee word en dit is nie nodig dat alle kinders in kassies gedruk en almal volpunte vir alles moet kry nie.
• Die doel van skoolgaan is sekerlik om akademiese uitnemendheid na te streef, maar dit moet nie ten koste van natuurlike, sorgvrye ontwikkeling en vreugde geskied nie.
Die einddoel moet steeds wees om gelukkige, gabalanseerde kinders te help om sy/haar regmatige plek in die samelewing na die beste van sy/haar potensiaal in te neem.
Wat ouers en opvoeders moet weet
In die meeste huishoudings werk die meeste ouers en kom hulle saans moeg en laat by die huis. Elke ouer begeer die beste vir hul kinders, maar kom eenvoudig nie altyd by hul kinders se skoolpligte uit nie.
Elke kind ontwikkel op sy eie unieke manier en dit is belangrik dat sintuiglike ontwikkeling volgens normale patrone natuurlik geskied en nie vroeg ryp gedruk en gemanipuleer word nie – gebeur dit kan aandaggebreksindrome ook vererger word.
Kinders se balans, sig, gehoor, emosies, spierbeheer, ens geskied bv gesamentlik en as jy peuters bv uitermatig net visueel stimuleer met bv TV-speletjies bly ander sintuie agter.
Dit is nie noodwendig die jong kind wat goed presteer wat bo uitkom nie. Moet dus nie stadige ontwikkelaars as dom afskryf en hulle moed en selfbeeld lewenslank skade berokken nie.
Daar word te veel ophef gemaak van prestasies, hetsy akademies of sport, op ’n te jong ouderdom.
Kinders moet dit waaraan hulle deelneem, eerstens geniet – dit is ontspanning en gebalanseerde persoonlikheidsontwikkeling wat in sport baie meer tel as prestasie. Moenie die skool kruisig as die kinders verloor nie. Tot op 12 jaar moet daar eerder op die ontwikkeling van vaardighede, tegniek, ruimtelike oriëntering, visie en kreatiwiteit in sport gekonsentreer word.
Ouers en opvoeders is beide skuldig aan die plaas van te veel druk op jong kinders en moet beslis versigtig wees.
Kinders moet geleer word dat mens sport en skool moet geniet en om ondanks nederlae en terugslae met entoesiasme aan te hou.
Die sintuiglike en ruimtelike ontwikkeling van kinders vanaf geboorte geskied op ’n baie ordelike en gebalan- seerde wyse. Wanneer die kind weens die omgewingsinvloede waaraan hy blootgestel word, van die sistematiese, ordelike en natuurlike wyse van ontwikkeling ontneem word, kan probleme opduik ten opsigte van byvoorbeeld aandaggebruik.
Kinders moet baie buite speel, want spierbalans asook die visuele en ander sintuie ontwikkel gelyktydig.
Jy kan byvoorbeeld nie ’n plaaskind wat vanaf twee jaar vrylik rondspeel en aan ander dinge blootgestel is, skielik binne een week dieselfde hanteer en beoordeel as ’n stadskind wat heeldag in die woonstel moet sit terwyl sy ouers eers laat huis toe kom nie. Individualiteit in onderrig is dus belangrik.
Stimulante in gebruik van ADS
Die mees besproke en algemeen voorgeskrewe middels is stimulante wat as dit vir die regte pasiënt voorgeskryf word, baie goed werk – dit is egter nie die alfa en omega van ADS nie.
Dié middels moet eers na deeglike kliniese evaluasie gegee word. Daar moet voorts elke ses maande volledige kliniese, sielkundige en chemiese evaluasies deur die dokter wat dit voorgeskryf het, gedoen word.
Geneeshere word aan geweldige regsaanspreeklikheid blootgestel by die voorskryf van die middels en word onder druk deur opvoeders en ouers geplaas om dit net eenvoudig lukraak voor te skryf. Die middels word almal as Skedule 7-middels geklassifiseer, wat behels dat die geneesheer dit nie langer as een maand sonder deeglike ondersoek mag voorskryf nie.
Desondanks verstaan veral ouers dit nie, en plaas hulle veral huisdokters onder groot risiko’s. Indien enige kind erge komplikasies ervaar of bv selfdood agv die middel pleeg, kan die dokter wat dit voorgeskryf het strafregtelik vervolg word. Die middels het newe-effekte en ouers moet hulleself daarvan vergewis.
Deur die skryf van die voorskrif impliseer die geneesheer dat hy die pasiënt ondersoek het en gekyk het vir oor- of onderdosering en dat hy regsaanspreeklikheid vir die voorskrif aanvaar. Pasiënte dink die dokter wil net geld maak, maar is die eerste om die dokter te dagvaar as daar probleme ontstaan. Dit geld vir alle middels.
Ander feite wat beklemtoon moet word
• Stimulante kan nie die intense, liefdevolle betrokkendheid van ouers by hulle kinders se opvoeding en geleerdheid vervang nie.
• Opvoeders moet die uniekheid en behoefte aan individuele aandag van elke kind in die klas erken.
• Rekenaars en selfone kan uiters nadelig op ADS-kinders inwerk.
• Skermtyd moet ten alle koste beperk word.
• Kinders moet genoeg fisieke oefening maar ook veral slaap kry.
• Vermy te veel koolhidrate, soetgoed en kaffeïen,
• Lees vir jou kinders. Laat hulle self ook lees. Vertel stories en gesels met hulle. Ontwikkel ten alle koste hul kreatiwiteit.
• Eet aandete saam en kuier en lag saam met hulle.
• Ouers moenie hulle eie negatiewe gedagtes en opinies oor die toekoms gedurig op kinders afdwing nie – moenie hulle visie, drome, hoop en toekoms vertroebel nie.
• Ouers moet dus nie hulle vrese, mislukkings, ideale en begeertes op hulle kinders projekteer nie.
• Onthou ook dat daar besliste voordele en positiewe eienskappe in ADS teenwoordig is.
Hierdie mense kan:
– Nooit vervelig wees nie.
– Hulle is ’n plesier om mee saam te leef.
– Hulle is uiters kreatief, artisties en goeie entrepreneurs.
– Hulle is spontaan en entoestiasties.
– Hulle is energiek met dryfkrag.
Onthou hierdie!
Onthou dat daar GEEN VERBAND tussen ADS en intelligensie-afname is nie; inteendeel baie mense met ADS is uitsonderlik begaafd.
Die klem moet soos by verrykende onderrig, nie geplaas word om ADS- lyers te leer hoe om te leer nie, maar om ouers en veral opvoeders eerder te leer hoe om hulle tot die gemeenskap se voordeel te ontwikkel en te hanteer.
• Hierdie artikel het gespruit uit ’n funksie op 9 Mei by die Laerskool Wesbank oor Aandagafleibare Sin-droom (ADS) waarheen alle Oudtshoorn-ouers en -opvoeders genooi is en waar dr Wessel en dr André Swart, bekende pediater en kenner van die sindroom, die sprekers oor die onderwerp was.