’n Nuwe uitbreking van Afrika-varkpes (AFS) onder varke van kleinboere het opnuut in die omgewing van George in die Suid-Kaap voorgekom.
Volgens ‘n mediaverklaring van die Wes-Kaapse Landboudepartement is dit die vierde uitbreking in die gebied sedert 2022. Die siekte het in 2022 en weer in 2023 by Kwanonqaba by Mosselbaai voorgekom, waar dit onder beheer gebring is.
Dit het ook in 2022 in Thembalethu by George voorgekom waar dit steeds ’n bedreiging vir kommersiële varkboere inhou.
In die jongste voorval het 45 varke van die siekte gevrek, terwyl daar steeds 250 varke in die woonbuurt voorkom.
Die gebied is onder kwarantyn geplaas en lede van die gemeenskap word ernstig gemaan om nie varke of varkvleisprodukte uit die gebied te verwyder nie om te keer dat dit verder versprei.
Daar is geen behandeling of entstof teen die siekte wat mak- en wildevarke aantas nie.
Al genade is baie streng biosekerheidsmaatreëls, wat insluit dat karkasse veilig van kant gemaak moet word, varke op hok gehou met word om te keer dat snuffelende varke wat besmette afval eet die virus opdoen.
Die belangrikste is om nie besmette varke of varke wat in aanraking met besmette varke was te verskuif nie.
Volgens ’n boer van die omgewing is dit die praktyk om siek varke bloot na ’n ander woonbuurt te verskuif.
Mense wat varke hanteer moet voor en na blootstelling hulle hande, klere, skoene en toerusting ontsmet om te keer hulle die virus na ander varke oordra.
Voorts moet enige afvalkos wat varkvleis bevat deeglik gaargemaak word voordat dit aan varke gevoer word, en boere moet slegs varke by betroubare agente wat gesertifiseerde siektevrye varke verskaf aankoop.
Volgens die senior staatsveearts op George het die siekte nie na twee kommersiële varkboerderye in die omgewing versprei nie.
Die siekte tas nie mense of ander diere aan nie en varke wat onder beheerde toestande by slagpale geslag is, is veilig vir menslike gebruik. Dit geld ook vir varkvleis en varkprodukte op winkelrakke.
Simptome by besmette varke sluit moeilike asemhaling en rooi vel op die vark se pens, en ore in.
Die agterbene gee mee en die vark verloor eetlus. Soms kan daar bloed in die mis of braking voorkom.
Varkboere word gemaan om die naaste staatsveearts onverwyld te kontak indien AFS vermoed word. https://www.elsenburg.com/veterinary-services/animal-health-and-disease-control/.
Sover is daar nog geen gevalle van Varkpes in Oudtshoorn aangemeld nie. (Deur Tisha Steyn)
Varkpes floreer steeds in Suid-Kaap
