DIE Middelplaaspad, ’n grondpad suid-oos van De Rust, is in so ’n slegte toe-stand dat dit lewensgevaarlik kan wees, sê Frans Delport van die plaas Middelplaas.
Die Middelplaaspad verbind die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust en die R341 tussen De Rust en Uniondale/Willowmore.
Voertuie wat op die pad gebruik word, is bakkies, sedanmotors, drie skoolbusse, ’n kleuterskoolbussie, trekkers, vragmotors met sleepwaens en plaasimplemente.
Die pad word die meeste deur boere gebruik wat dikwels heen en weer op die pad ry. Ouers wat hul kinders skool toe vat en toeriste gebruik ook onder meer die pad.
Delport sê hy en ander boere van die omgewing het al die slegste dele van die pad self herstel.
Die suidwestelike helfte van die Middelplaaspad wat by die Le Rouxstasie by die N12 aansluit, is die slegste en is die gruisbolaag stuk-stuk heeltemal weggery sodat die rooi grond waarop die pad gebou is uitsteek. Veral dié gedeeltes is baie klipperig.
Ouers van Middelplaas vermy die pad met hul motors wanneer hulle hul kinders skool toe vat, en moet nou ’n draai van 8 km ry om by die skole op Oudtshoorn uit te kom en weer ’n draai van 8 km as hulle terug ry huistoe.
Delport sê een van die redes wat die pad so gevaarlik maak, is dat gedeeltes so sleg is dat bestuurders soms selfs om draaie en teen hoogtes waar hulle nie ver vooruit kan sien nie aan die verkeerde kant van die pad ry om die slegte gedeeltes te vermy. As iemand te vinnig van voorof aankom, kan dit ongelukke veroorsaak.
Nog ’n probleem met die paaie is dat die plantegroei soos doringbome en riete by riviere gedeeltelik oor die pad groei en die uitsig versper.
Volgens Delport het hy in Desember vir Gert Verwey van die Wes-Kaapse paaie-departement gebel om hom in te lig oor die toestand van die pad.
Verwey het hom ingelig dat hulle in daardie stadium by Vlakteplaas werk en bygevoeg dat as hulle daar klaar is, sal hulle aandag skenk aan die Middelplaaspad.
“Hulle het wel ’n stuk kom skraap in Desember, maar sedertdien is niks verder gedoen nie.
Albert Schoeman sê in die 42 jaar wat hy langs die pad woon en boer, was die pad nog nooit in so ’n slegte toestand nie. “Ons doen nou baie meer skade aan ons voertuie op en kry meer pap wiele as wanneer die pad in stand gehou word,” sê hy.
Anton Schoeman van Die Gat Gastehuis wat in die Middelplaasomgewing is, sê daar is heelwat gastehuise en ander toeristeplekke in die omgewing wat tot gevolg het dat die pad ook baie deur toeriste gebruik word. Hulle durf die pad aan sonder dat hul bewus is van die toestand van die pad.
“’n Mens het begrip daarvoor dat die paaiedepartement baie werk het, maar die Middelplaaspad se toestand is heeltemal onaanvaarbaar,” sê hy.
• Delport sê die manier wat die paaiedepartement die hoeveelheid voertuie op die pad tel, is nie reg nie. “Die mense wat die voertuie tel, sit by die plekke waar die Middelplaaspad by die teerpaaie aansluit. Dit is egter net ’n gedeelte van die verkeer wat tot by die pad ry. Ons boere ry baie heen en weer op die pad met ons bakkies na ander plase. Ons trekkers en implemente ry ook nie tot by die teerpaaie nie,” sê hy. (Deur Schalk le Roux)