CKI (Cape Karoo International) beywer hom daarvoor om volstruisprodusente by te staan om volhoubaar te kan produseer binne die realiteite van mark, vraag en aanbod en met ’n hoë genoeg realisasie.
Dít het Francois de Wet, uitvoerende hoof van CKI, Dinsdag, 3 Maart 2020, by Agri Wes-Kaap se streekskongres in die Boeresaal op Oudtshoorn gesê.
CKI streef ook daarna om ’n positiewe omgewing vir sy personeel te skep waar-binne hulle veilig voel en kan innoveer met die doelwit om die mark vir leer, vleis en vere genoeg te groei om die bedryf lewensvatbaar te hou, het hy gesê.
Volgens De Wet domineer Suid-Afrika die wêreld se volstruisproduksie met 61% van die wêreldproduksie. “Ons moet egter nie oorgerus raak nie. Daar is lande wat goedkoper as Suid-Afrika kan produseer.”
De Wet vertel in die vroeë jare 2000 is daar jaarliks sowat 30000 volstruise geslag. Die laaste aantal jare was dit tussen 12000 en 14000.
“Hoewel CKI ’n wêreldspeler is, moet ons nie ons grootte oorskat nie. Ons is ’n liggewig in die landbou,” het hy gesê.
CKI se grootste markte is in Noord- en Suid-Amerika, in Europese lande en in oosterse lande soos China, Korea en Japan. In dele van die VSA is cowboyboots groot asook in Meksiko.
Hy sê die Amerikaners hou van skoene met vierkantige punte terwyl die Meksikane van skerp punte hou!
Volgens De Wet gaan dit tans moeilik in die vleismark. “Die uitvoervolumes is heelwat laer as waarvoor ons begroot het. Wat die plaaslike mark betref, werk die groot rooivleisaanbod en lae rooivleispryse teen ons. Ons is genoodsaak om heelwat volstruisfillet in blokkiesvleis op te sny en te verkoop.
Danksy hittebehandeling word 56% van volstruisvleis nog uitgevoer en 44% binnelands verkoop.
“Alles is darem nie doom en gloom nie. ’n Vleisdrogingsaanleg word op Mosselbaai gebou waar ons biltong en droëwors van volstruis- en wildsvleis gaan maak.”
Volgens De Wet het vere in ’n mate die plek van vleis ingeneem ten opsigte van die produsent se realisasie. Vere speel deesdae ’n belangrike rol deurdat daar ’n 40%-waardetoevoeging plaasvind in items soos vere en boas.
Met dierewelsyn wat toenemend in die kollig is, is dit vir die volstruisbedryf noodsaaklik om aan wêreldstandaarde te voldoen tov onder meer die oes van vere, die knip van toonnaels en die vervoer van volstruise.
• Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het verwys na die rol van georganiseerde landbou wat in Suid-Afrika terug strek tot 1807.
“Ons strewe is om by te dra tot die volhoubaarheid van landbouprodusente.
“Ons is produsente se spreekbuis by die regering en behartig hul belange op die hoogste vlak. Dit gaan tog mos nie doeltreffend wees as elke boer op eie houtjie met die regering onderhandel nie. Met Agri-organisasies wat oor kundigheid beskik en groot getalle produsente verteenwoordig, het ons baie meer bedingingsmag,” het hy gesê.
Baie produsente is nie betrokke by georganiseerde landbou nie, maar word ook deur Agri se aktiwiteite bevoordeel. Volgens Strydom kan dié onbetrokkenes as rugryers beskou word.
“As ons meer lede het, kan ledegeld verlaag,” het hy gesê.
Agri Wes-Kaap tree proaktief op om betrokkenheid te verhoog deur ’n kursus oor georganiseerde landbou by die Hoër Landbouskool Oakdale aan te bied. “As dié leerders dan eendag klaar gestudeer het en op die plaas kom, is hulle ingelig oor die belangrikheid van georganiseerde landbou en om betrokke te raak.
Strydom het laastens gesê hy is positief oor landbou. “Mense moet eet en daar is ’n stygende vraag na landbouprodukte.” (Deur Schalk le Roux)