Landbou-ooreenkoms met Alphen aan den Rijn gesluit

’N Nuwe samewerkingsooreenkoms  ten opsigte van landbouverwante projekte is Dinsdag tussen die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit en die munisipaliteit van Alphen aan den Rijn, Oudtshoorn se sustersdorp in Nederland, gesluit en onderteken.

Die huidige vyfjaar-ooreenkoms tussen die twee munisipaliteite verval die einde van vanjaar.

Die nuwe ooreenkoms volg nadat die twee munisipaliteite die voordele en geleenthede vir beide partye raakgesien het, veral deur samewerking op die gebied van tuinbou.

Dit kan vir besighede die geleentheid bied om die plaaslike en internasionale blommemark te betree.

Die feit dat die seisoene in die twee lande op verskillende tye voorkom, daar hektare se vrugbare grond in die Oudtshoorn-gebied beskikbaar is, en daar plaaslik internasionale kundigheid beskikbaar is by ’n besigheid soos Klein Karoo Saad word beskou as groot voordele vir suksesvolle same­werking.

Die Greenport Boskoop van Nederland is ook bereid om hul kundigheid en ervaring op die gebied van die verbouing van tuinplante met Oudts­hoorn te deel.

Volgens Michiel Gerritsen, voorsitter van die Nederlandse Greenport Boskoop – wat reeds meer as 500 jaar by tuinbou betrokke is, is dit ’n manier om kennis oor die bedryf aan Oudtshoorn se gemeenskap oor te dra. So kan daar in Oudtshoorn ook meer werk geskep word.

Die afvaardiging was volgens een van die lede, Hans van Arkel, hoogs beïndruk met hul besoek aan Waai­kraal, ’n plaas buite Dysselsdorp, se ontwikkelingsprojekte.

Kees van Vel­zen, raadsheer van Alphen aan den Rijn,; en Colan Sylvester, burgemees­ter van Oudts-hoorn, wat die ooreenkoms onderteken het, het beklemtoon dat die ooreenkoms die bande tussen die twee dorpe net sterker sal maak.

 

(Deur Stefan Skapie Goosen)