
MET ’n boverwagte toename van meer as R200 m in omset van die Klein Karoo Saad Groep vanaf 2022 tot 2023 en vergelykbare toename in aankope vanaf produsente van meer as 97% teenoor die vorige jaar, het Klein Karoo Saad en al sy filiale, ’n uitstekende jaar beleef. Die uitstekende groei van KKSP kan grootliks toegeskryf word aan die toename in saadproduksie-oppervlaktes, verhoging in $/€ pryse aan produsente en ook die Rand wat verswak het teen ander geldeenhede.
So het David Malan, Besturende Direkteur van Klein Karoo Saad aan sowat 280 gaste gesê tydens die maatskappy se glansgeleentheid by Surval buite Oudtshoorn om erkenning te gee aan saad-produsente vir hulle uitsonderlike prestasie gedurende die jaar. Na sewe moeilike jare wat inkrimping getoon het weens droogte en veral in 2022 weens swak bestuiwing deur die bye, lyk vanjaar se prentjie weer mooi groen en die syfers getuig hiervan. Die ander filiale van Klein Karoo Saad soos Agrofors het ook ’n betekenisvolle bydrae gelewer tot die Klein Karoo Groep se resultate. Dit sluit in die toename in kunsmisverkope met bykans 12% of R10 m. Dit ten spyte daarvan dat die pryse van kunsmis gedaal het en dit beteken weer dat ons heelwat meer kunsmis moes verkoop om ’n groei in omset te behaal. Weidingsaadverkope het in die afgelope jaar, meer as verdriedubbel en aangesien dit ’n baie jong aktiwiteit is, verwag ons nog baie groei in die afdeling. Danksy meer reën, het die verkope van chemikalieë ook toegeneem omdat meer beheer van peste en plae moes plaasvind. Al die afdelings was ook winsgewind en het derhalwe betekenisvol bygedra tot die sukses van die maatskappy en die groep.
“Vanjaar het ons ook besluit dat dit tyd is om vroue in die landbou, en vroue oor die algemeen te eer en erkenning te gee,” het Malan gesê. Vanjaar is Michelle Fourie van Fraserburg aangewys as die eerste “Vrou in Landbou” vir haar onbaatsugtige bydrae wat sy lewer tot Landbou in die algemeen, maar veral ook vir die maatskappy van Klein Karoo Saadproduksie, produksietegnologie en ook saadproduksie in Suid-Afrika. Die tema van vroue is ook deurgetrek deur Nadia Nel, van Kingdom Culture wat die verrigtinge geopen het met gebed, en Andriëtte Norman wat vir die vermaak gesorg het die aand. Daarna is elke vrou bederf met ’n spesiale geskenksak vanaf Klein Karoo Saadproduksie, waarin verskeie geskenke soos ’n volstruisleer sakkie, waterbottel en heerlike kruie en speserye toegedraai was.
KKSP spog ook nou met hul eie WhatsApp- groep, waar hul vinniger en met gemak kontak kan maak met hul kwekers. Boere kan nou omskrywes ontvang in verskeie vorms, per WhatsApp, e-pos en persoonlike kommunikasie.
Daar sal ook weer in 2024 inligtingsdae by verskeie dorpe gehou word en die gewilde saadsafari is ook weer op die boeke.Vanjaar het hul ook twee kompetisies geloods waarin boere foto’s van hul lande kon instuur wat dan in aanmerking kom vir 2025 se almanak. En die ander kompetisie se voorwaarde is dat boere hul beste voetjie, dis nou die met hul spesiale saadmotiefsokkies saam afneem. David het hier die voortou geneem deur sy broekspyp op te trek en sy sokkies ten toon te stel. Die gasspreker vir die aand was die bekende Quinton Coetzee. Coetzee is ’n bekende natuurkundige, het al 40 lande besoek, 5 kontinente, het die grootste dieretuin bestuur, en was betrokke by bekende produksies soos 50/50, Aardwolf en selfs Veldfokus. Sy tema vir die aand was “Back to Basics.”
Hy het besighede vergelyk met die Khoi-stam. Hoe hul saam met die natuur werk om die maksimum voordeel te trek, maar tog ook elke aspek van die natuur beskerm en versorg, sodat daar ’n groter opbrengs in die toekoms sal wees.
Hier volg al Klein Karoo Saadproduksie se pryswenners:
F -1 GEEL UIE (Klein Produksie):
Naaswenner: : Keith Kroon PTY Ltd, Eugene van der Bank van Willowmore
Wenner: DP Brink, Danie Brink van Fraserburg
F-1 GEEL UIE (Groot Produksie):
Naaswenner: Dwars-in-die-Weg EDMS Bpk, PF Theron van Laingsburg
Wenner: Robert Brown van Touwsrivier
OP GEEL UIE (Klein Produksie):
Naaswenner: Riaan Fourie Boerdery PTY Ltd, Riaan Fourie van Fraserburg
Wenner: JA Louw (Bordeaux), Adriaan Louw van Williston
OP GEEL UIE: (Groot Produksie):
Naaswenner: Fanie Zaayman Boerdery, Louis Zaayman van Calitzdorp
Wenner: Avondrust Boerdery BK, Gert van der Merwe van Klaarstroom
OP WIT UIE:
Naaswenner: Altringham Trust, JJ Mocke van Victoria-Wes.
Wenner: Drafstap Boerdery, Willie Luttig van Upington
F-1 ROOI UIE:
Naaswenner: Theunissen Trust, Leon Theunissen van Ceres Karoo
Wenner: (Wyle) Ernst Marais van Laingsburg
OP ROOI UIE: (Klein Produksie)
Naaswenner: Theunissen Trust, Leon Theunissen van Ceres Karoo
Wenner: SV Terblanche Familie Trust, Sergei Bekker van Buffelsklip
OP ROOI UIE: (Groot Produksie)
Naaswenner: Mooiland Boerdery Trust, André Bruwer van Kakamas
Wenner: Jopetku Boerdery PTY Ltd, Kurt Loots van Prieska
OP LENTEUIE:
Naaswenner: Habite Travail Garde BK, Riaan Terblanche van Lategansvlei.
Wenner: Allicro Karoo Pty Ltd, Karel de Haas en Gert Borcherds van Klaarstroom
F-1 LENTEUIE:
Naaswenner: HD Faure, Duo Faure van Barrydale
Wenner: JH Schoeman, Boeta Schoeman van Schoemanshoek
F-1 WORTELS: (Klein Produksie)
Naaswenner: JLA Boerdery Edms Bpk, André en Johan Fourie van Calitzdorp.
Wenner: Avondrust Boerdery BK, Jurie Klue van Klaarstroom
F-1 WORTELS: (Groot Produksie)
Naaswenner: Rooirivier Boerdery EDMS BPK, Niel van der Westhuizen van Rooirivier, De Rust
Naaswenner: Rooikloof Boerdery, Stefan Fourie van Calitzdorp
Wenner: Vanniek Boerdery BK, Hannes van Nie-kerk van Calitzdorp
OP WORTELS:
Wenner: Middelplaas Trust, Piet Schoeman van Buffelsdfrift, Oudtshoorn
NEW BUNCHING:
Wenner: Delport Broers Boerdery BK, Johannes Delport van Middelplaas, De Rust
PREIE:
Naaswenner: Drilrivier PTY Ltd, Japie de Bruin van Clanwilliam
Wenner: Oudehuiskloof Boerdery, Pieter Nel van Matjiesvlei
SLAAI:
Wenner: Sonja Agri Pty Ltd, Pierre Rabie van Nuy Valley
NUWE TOETREDER VAN DIE JAAR:
Keith Kroon PTY Ltd, Eugene van der Bank van Willowmore
JSK Moelich, Joos Moelich van Williston
De Bos Agri, Cornie en Braam van Tankwa Karoo
ERETOEKENNING:
(Wyle) Ernst Marais van Laingsburg
VROU IN LANDBOU:
Michelle Fourie van Fraserburg
Foto’s: Ilse Jordan

Vanjaar se wenners. Agter van links: Charl Rabie, Jurie Klue, Gert van der Merwe, Adriaan Louw, Sergei Bekker, Karel de Haas, Gert Borcherds, Kurt Loots, Hannes van Niekerk, Willie Luttig en Pieter Nel. Voor van links: Boeta Schoeman, Elmarie Marais, Amarcia Marais, David Malan (KKSP se besturende direkteur), Johannes Delport (voorsitter van KKSP-direksie), Pieter Burger (Voorsieningskettingbestuurder van KKSP), Danie Brink, Piet Schoeman en Robert Brown.

Vanjaar se naaswenners. Agter van links: Riaan Terblanche, Leon Theunissen, Duo Faure, Eugene van der Bank, Riaan Fourie en André Fourie. Voor van links: Niël van der Westhuizen, Louis Zaayman, Ockie van der Westhuizen, David Malan (KKSP se besturende direkteur), Johannes Delport (voorsitter van KKSP-direksie), Pieter Burger (Voorsieningskettingbestuurder van KKSP), PF Theron, Japie de Bruin en Johan Fourie.

Michelle Fourie saam met David Malan (links) en Pieter Burger.

Andriëtte Norman het gaste vermaak met bekende saamsing liedjies.

Quinton Coetzee, bekende natuurkundige was die aand se motiveringspreker.
Saadsafari, sokkies en sakke vol pret

Elke gas het ’n oulike paar sokkies met groentemotiewe ontvang in hul bederfsakkies.

Die vasvra het gesorg vir ’n hele paar kopkrapoomblikke.
KLEIN Karoo Saad het verlede Woensdag hul saadprodusente en gades van regoor Suid-Afrika letterlik uit hul sokkies bederf. Die oggend het begin met heerlike boeretroos, beskuit en muffins om seker te maak die gaste se dag begin op die regte noot, veral vir een boer wat ’n 700 km ompad moes ry na al die verspoelings om die dag by te woon. Net ’n bewys dat die spreuk “’n boer maak ’n plan” waar is.
David Malan het gaste verwelkom by hul perseel in Kooperasiestraat. “Gesels met mekaar, ruil inligting en idées uit, want elke bietjie inligting kan sukses op ’n plaas dalk net verbeter” het hy gesê.
Elke gas het ook ’n bederfsakkie ontvang met proviant vir die dag, soos lekker tradisionele droëwors. Daar was ook ’n notaboekie en pen, vir die wat wou notas maak vir die vasvrakompetisie later, ’n paar sokkies met groentemotiewe en selfs ’n hoed om te verseker dat die Karoo son nie te erg brand nie.
Hierdie is die vyfde jaar wat Klein Karoo Saadproduksie die saadsafari aanbied.
’n Interessante brokkie inligting is dat die eerste saad in 1927 in die Klein Karoo area geplant is deur die Wannenburg familie, en nie net enige familielid nie, maar ’n vrou, Mev Emily Wannenburg.
In 1945 word boontjie- en ertjiesaad ook hier geplant en verkoop, maar KKSP begin in die 80’s ernstig met professionele produksie van groentesaad.
Tydens die saadsafari het KKSP die plaaslike taxibedryf ingespan om meer as 110 produsente en van hulle gades met ’n konvooi taxi’s tot na plase en besoekpunte vervoer het, waar verskillende sprekers opgetree het. Elkeen van die onderwerpe is so gekies dat dit bydra tot die bestuur van saadproduksie op die plase. Onderwerpe het ingesluit korrekte filters by besproeiing, bemisting en voorkoming en ook die regstel van verbrakking in grond, gebruik van weidingsaad in die regstel van grond- gesondheid en ook die rol van produksietegnologie in saadproduksie. Laaste stop op ons toer was Calitzdorp Wynkelder met ’n glasie wyn en ’n stoepkuier. Tydens elke aanbieding is leidrade verskaf vir ’n vraag-en-antwoordsessie.
Middagete was heerlike worsbroodjies met ’n optrede deur die plaaslike musikant, Janine Fourie en haar trekklavier.
Na middagete het produsente die geleentheid gehad om te sien wat gebeur met hulle saad deur die hele proses van lewering, saadskoonmaak, kwaliteitskontrole tot uitvoer.
Afdelingshoofde het die geleentheid gebruik om produsente toe te lig oor hul afdelings se aktiwiteite.
Produsente het die uitstappie geweldig interessant gevind.
Die groot oomblik het aangebreek en die vraestelle is uitgedeel.
Boere het lekker kop gekrap, maar eindelik was daar net 4 spanne wat 22 uit 24 van die vrae reg kon beant-woord, en weggestap met groot pryse.
Na afloop van die dag, is die gaste na hul onderskeie blyplekke, om hul vere te gaan reg skud vir die aand se funksie, wat elke jaar ’n hoogtepunt op menigte se kalender is.

Gaste is vroegoggend bederf met heerlike boeretroos en eetgoed by KKSP se perseel.

Die plaasike taxibedryf is ingespan om meer as 110 gaste in ’n konvooi na die verskeie plase en besoekpunte te neem.

Die plaas, Besemkop in Calitzdorp wat aan KKSP behoort en waar nuwe variteite ook gekweek en getoets word.

Gaste op pad na die laboratorium.

Janine Fourie, bekende Oudtshoorn sanger, het tydens middagete opgetree, en ’n gesellige atmosfeer geskep.

Die saadskoonmaakproses is in detail verduidelik.

Verskeie spuitkoppe se sproei word gedemonstreer.