
Die 14de saaddag van die KKS se gewildheid groei net soos KKS se groentesaad, elke jaar teen ’n goeie tempo.
Deelnemers het vroeg Donderdagoggend by Besemkop se stoor bymekaargekom waar elkeen ’n KKS-kep, boekie en sonskerm ontvang het en ’n lekker koppie koffie geniet het voordat hulle in bussies na die lande vervoer is. Vanjaar het 350 boere en hul gades die dagprogram bygewoon en by tien afsetpunte verskeie interessante feite geleer.
Daar was ook ’n geleentheid waar spanne kon inskryf. Die somtotaal van hierdie pryse was sowat R20 000. Vyf en negentig spanne het aanvanklik ingeskryf, maar nog geleentheid is gegee om die dag ook in te skryf. Daar was altesaam 120 spanne.
Die vraestel wat na afloop van die saad-in-sig geskryf is, was gebaseer op inligting wat tydens elke punt uitgegee is. Spanne het te voet na die tien verskillende punte gestap.
Die punte was: 1. Evaluasieproewe van Agrofors, 2. Kemfert Solutions, 3. Bestuiwingsdienste, 4. Na-kontroles, 5. Navorsing, 6. Moedersaadproduksie, 7. Blomproewe, 8. Plantmateriaalproduksie, 9. Besproeiing, 10. Kwaliteitskontrole.
By elke afsetpunt was daar ook ’n voëlverskrikker en voëlverskrikker families waarop deelnemers later kon tender. Hulle het deel uitgemaak van KKS se fondsinsamelingsprojek vir Vygieshof Tehuis. Lees meer hieroor later.
Na afloop van die vraestel skryf was daar ’n gelukkige trekking en omtrent elke gas het weggestap met ’n prys. Vanjaar se oulike sok- kies met die bestuiwers tema is uitgedeel.

Na afloop van die dag is vraestelle ingevul.

David Malan by een van die inligtingspunte, vertel vir gaste interessante feite oor al die aktiwiteite wat by Besemkop plaasvind.

Inligtingspunte was loopafstand van mekaar gewees in die landerye waar uieproewe plaasvind.

Gaste het elkeen ’n kep en notaboek met hul aankoms ontvang.

Besemkop se saadstoor is vrolik in ’n heerlike kuierplek omskep vir albei dae se funksies.

Proewe by Besemkop sluit ook in weidingsaad, soos lusern en hawer, en word deur AgroFors behartig.

’n Oulike voëlverskrikker gesin, met drie kinders en nog een op pad.

KKS bring lig oor Calitzdorp
’n Helder lig skyn oor Calitzdorp, vandat daar ’n 6 m hoë kruis op Besemkop op 12 September aangebring is.
Die idee vir hierdie spesiale projek het van Pieter Burger gekom, wat sy visie met die span gedeel het en almal geïnspireer het om saam te werk. ’n Groep toegewyde kollegas het teen die steil, byna onbegaanbare roete van Besemkop uitgeklim om die kruis op te dra en te help oprig – ’n ware toonbeeld van spanwerk en geloof.
Die draers wat die swaar staalstruktuur bergop gedra het, was Kerneels, Henrico, Klein Jan, Mintoor, Freewill en Apools. Jan Lategan, wat binne net twee dae die kruis self vervaardig het, het ook sy dapper bydrae gelewer. Jonger manne – Pieter Barnard, Ruhan, Kian en Tino – het gehelp met die finale oprigting, terwyl Pieter en Jorrie vroeër die terrein verken het om die perfekte plek te vind.
Met sonsondergang het die kruis vir die eerste keer helder geskyn – ’n tasbare simbool van hoop en lig vir die gemeenskap. “Mag hierdie kruis ’n daaglikse herinnering wees aan geloof en hoop, en om altyd op te kyk na Hom, ons Skepper wat ons daagliks seën!” sê David Malan.
Nog ’n ligpunt is KKS se fondsinsamelingsprojek ten bate van Vygieshof Tehuis in Calitzdorp. Twintig lotte is Donderdagaand opgeveil, asook die opbrengs van die tenders vir die voëlverskrikkers. Meer daaroor in volgende week se koerant.
Braaivleisvure brand hoog tydens KKS se kuieraand

Die Donderdagaand het afgeskop met ’n lekker informele kuier geleentheid. Die bekende TV-aanbieder en seremoniemeester Hamilton Wessels, het die aand as seremoniemeester opgetree en ongeveer 440 gaste laat lag dat die trane loop met sy grappies. Hy het ook die opveil van 20 lotte behartig. Daar is gesmul aan lekker braaivleis (wat deur die personeel gebraai is) en slaai, terwyl Ricus Nel op die verhoog was. Sy lekker liedjies het die dansvloer vinnig volgemaak. Die perfekte afsluiting vir ’n fees vol gemeenskap, gee en genot.

Hamilton Wessels.

’n Lekker gesellige kuieraand.

Geraldine en Riaan Pretorius van Vygieshof Tehuis, Calitzdorp saam met David
Malan van KKSP.
