Kammanassiedam, ’n lewensaar

Die Kammanassiedam. Die wal is sigbaar op die lugfoto, maar die grootte van die enorme wal kan eers regtig besef word wanneer daar onder langs die wal gery word. Die dam is 100 jaar oud en vier sy eeufees vanjaar. Foto: Morne Jonker

Die Kammanassiedam, so 25 km buite Oudtshoorn aan die voet van die Kammanassieberge, vier vanjaar ‘n besonderse mylpaal.

Dit is 100 jaar van broodnodige water wat aan boere van Rooiheuwel, Volmoed en verskeie areas tot by die Warmbad by Calitzdorp voorsien word.

Besoek jy die reusagtige damwal, sal jy die datum 1923 in sement verewig, bo-op die damwal vind.

Mens kan nie help om in verwondering te staar na die dik, hoë wal, wat die magdom water keer, en steeds so doen vir ’n eeu lank nie.

’n Ou, geel gevlekte inligtingbrosjure, gedruk in September 1922 deur Bowles Drukkers van Oudtshoorn, dui aan dat vir 20 jaar, en ongeveer 3 tot 4 geslagte het Oudtshoorn distrik water deur die uitkeer van die normale vloei en vloedwater van die Olifantsrivier ontvang, voordat die Kammanassiedam gebou is.

Die idee om die dam te bou is die eerste keer in 1898 deur ETL Edmeades geopper. Edmeades het op die plaas Kammanassie geboer en dit was ’n droë jaar gewees. Hy het besef dat die beste versekering teen die verlies van gesaaides deur die droogte was om aan te beveel dat daar ’n dam gebou word in die Kammanassierivier in ’n poort bokant sy opstal.

In 1902 besoek ’n ene mnr Gordon, die eerste direkteur van die Besproeiing vir die Kaap Kolonie, die voorgestelde plek. Niks het egter van die besoek gekom nie. Teen 1909 is daar na geskikte plekke vir die dam gesoek en ook navorsing gedoen. In 1910 en 1911 word die eerste opmetings gedoen.

Daar word in hierdie tyd noukeurig boek gebou van hoe sterk die Olifantsrivier loop, en ’n voorlopige plan vir die dam word opgetrek. Teen 1912, word die plan egter opsy geskuif. Drie jaar later is daar ’n groot droogte in die Klein Karoo, tesame met die ineenstorting van die volstruisveerbedryf. Dit spoor vir Edmeades aan om weer die planne vir die dam voor te lê, maar hierdie keer voor die inwoners van Oudtshoorn.

Op 4 Mei kom invloedryke boere bymekaar en saam besoek hulle die minister van Lande, waar hul ’n petisie voorlê vir die oprig van ’n besproeiingsdistrik.

Die eerste Waterraad is in 1917 gestig en het uit 9 lede bestaan. In 1918 kry die skema die goedkeuring van die Parlement, alhoewel die bou van die dam eers later voortgaan.

In 1919 is voertuie, masjinerie en grond vir behuising aangekoop, vir die bou van die dam.

Op 6 Mei 1920 is die eerste fondasieblok van die dam geplaas. Teen 1 Mei 1922, twee jaar later was die dam ver genoeg gevorder sodat die eerste water daarin opgedam kon word, deur 6 van die 36 duimsluise te sluit.

22 Voet water is teen 19 Mei 1922 in die dam gemeet, en kon die eerste beurt uit die dam gelaat word.

’n Groot vloed het op 20 Julie 1922 die area getref, met die watervlak wat tot op 53 voet gerys het. Die dam het 5 voet oor die wal geloop. Die dam het weer op 6 Augustus 1922 oorgeloop.

Sowat 10 000 ton konkreet (sement) is maandeliks gebruik om die dam te bou. Die beoogde datum vir die voltooi van die dam was volgens die brosjure 30 Junie 1923.

Na agt jaar van droogte en die Kammanassiedam wat vanaf 2015 leeg was, het die dam op 12 Oktober 2023 sy walle oorstroom. Boere van die omgewing was oorstelp van vreugde en het tydens ’n dankseggingsdiens op 13 Oktober 2023 die dam ingevaar en heerlik in die water baljaar (foto heelonder).

Water is nie net die lewensaar van die lewe nie, maar ook van ons pragtige dorp en area. (Deur
Angelique Erasmus)

Bo: Die eerste Kammanassie Besproeiingsraad.
Agter van links is A Poulten (Argitek), JG Kemper (Voorraad Bestuurder), AF Holland (Meganiese Voorman), BT Benn (Algemene Voorman), O Gavin (Kosteberekenaar van kanale), J Deacon (Stoorman), P Cictor (Tydhouer) en S Ellan (Klerk).
Voor van links sit N Shand (Ass Ingenieur), TP Fox (Snr Ingenieur, kanale), EFL Edmeades (Snr Ingenieur, dam en kanale), EF Patterson (Ingenieur), WB Thron (Boekhouer), BE Butler (Betaalklerk) en R Hotz (Tikster). Foto: CP Nel Museum Arg
ief

Bo: Boere was oorstelp van vreugde toe die dam na 8 jaar op 13 Oktober 2023, sy walle oorstroom het. ’n Dankseggingsdiens is gehou voor die brawe klomp die koue water aangedurf het. Foto: Angelique Erasmus