David Malan (voor naaslinks) en Pieter Burger (voor naasregs) saam met die Produksie-adviseurs van KKSP. Voor saam met hulle is Tielman Cornelius (links) en Dirkie Lategan. Agter van links is Gerhard Swart, Etienne Janse van Rensburg, Paul Saayman, Riaan Lambrechts en Jaco Burger.
Dié pragtige foto van ’n uieland is geneem deur Sarel van Staden en Maryna Cotton. Hulle het die foto verlede jaar van ’n lenteuie-aanplanting buite Oudtshoorn geneem.
TYDENS ’n spogonthaal wat Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) by Surval buite Oudtshoorn gehou het om erkenning te gee aan sy produsente, het David Malan, Besturen-de Direkteur van KKSP, ook al die produsente bedank vir hul deurslag-gewende bydrae om die onderneming die afgelope jaar weer eens winsgewend te maak.
Hy het die saadbedryf met ’n drie-beenpot vergelyk: Die een been is die saadkopers in die buiteland met die baie dollars wat saadkontrakte uitneem. Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) met die masjienerie, toerus-ting en kundige mense om die bedryf te bestuur is die tweede been. En die produsente is die derde been.
Malan het bygevoeg die onthaal word aangebied vir alle produsente, of hul pryse gewen het of nie. Hy het Absa, wat ’n kontantprys vir elke pryswenner geborg het, ook bedank.
In sy jaaroorsig het Malan tendense in die saadbedryf uitgelig.
“Ondanks die impak van die Covid-19-pandemie het die landbou en die saadbedryf wêreldwyd buiten-gewoon goed gevaar omdat dit onder meer die kollig laat val op kos wat baie belangrik is om die wêreld aan die gang te hou. Dit het ook met KKSP en van ons produsente goed gevaar. Die wisselkoers was ook baie goed vir ons produsente in die jaar wat verby is.
“Daar was ’n klomp positiewe faktore wat bygedra het tot baie goeie resultate, veral met die uie. Ons besigheid het ’n klomp surplussaad gehad wat ons kon verkoop. Dit het bygedra tot ons goeie resultate.”
Met die gasvryheidsbedryf, soos restaurante en hotelle, toegemaak het, het meer mense by die huis begin kook. Gevolglik het hulle vars groen-te, uie, wortels, pampoene, kool en nog meer gekoop, het Malan gesê.
“Elkeen wat ’n stukkie grond of balkon met houers het, het begin om tuistuine te maak. Ons het dit al voor- heen gesien as mense begin swaar kry en hulle kan nie meer uitgaan soos met die inperkings, begin hulle groentetuine aanlê.
Groentetuine het ook saadverkope die afgelope jaar baie gedryf,” het hy gesê.
Volgens Malan het Covid-19 wel ook ’n negatiewe uitwerking gehad deurdat baie mense hul werk verloor het en armoede toegeneem het. “Armoede in Afrika en ander derdewê-reldlande, het nuwe vlakke bereik.
“In die internasionale saadbedryf is daar groot inisiatiewe geloods om te help om saad aan behoeftige mense te skenk, want as jy saad het, kan jy produseer en oorleef. COP26 (UN Climate Change Conference) werk juis met die Wêreldlandbou-organi-sasie saam aan inisiatiewe om hon-gersnood en armoede te bekamp.”
Volgens Malan het die Covid-19-gesprek so intens geraak dat die kollig van aardverwarming weggeskuif het. “Dit is baie belangrik dat ons weer gesprekke voer oor klimaatsver-andering, want Suid-Afrika is een van die lande in die wêreld wat die meeste deur klimaatsverandering geraak word.”
Malan het beklemtoon dat saadkwaliteit baie belangrik is. “Dit is nie net hoë ontkieming wat belangrik is nie. “Ontkieming is net een van die aspekte.
“Genetiese suiwerheid om geson-de saad te produseer, is ook baie belangrik.
“Dit is belangrik dat ons saad vry van onkruid moet wees en behoorlik skoongemaak word, want die internasionale mark raak al strenger wat saadgehalte betref. As die internasionale mark kwaliteitsaad eis, is dit wat ons moet lewer,” het Malan gesê.
Nog ’n groot uitdaging tydens Covid-19 is die lae beskikbaarheid van saadhouers wêreldwyd.
“Ons het gedink dit sal beter begin, maar die tekort het in werklikheid al erger geraak. Die beskikbaarheid van verskeie items soos kunsmis, chemi-kalieë en nog meer wat afgeneem het, is ook ’n uitdaging.
“Ons sukkel tans nie net om uit te voer nie, maar ook om in te voer omdat die vloei van produkte onder druk is. Dan sit ons boonop met Suid-Afrika se hawens wat as van die swakste in die wêreld gereken word.”
Malan het ook daarop gewys dat Suid-Afrika die grootste sitrusbedryf ter wêreld het en dat sitrus dieselfde tyd as saad, naamlik April, Mei en Junie, uitvoer. “Dit vererger die uit-voerprobleem aangesien vars produkte altyd voorkeur bo stoorbare produkte kry. Maar ons werk daaraan om dit te verbeter.”
Volgens Malan het stygende inset-koste soos kunsmis, chemikalieë, minimumlone en nog meer, ook ne-gatief geïmpakteer. “Die styging van brandstofpryse tref ons ook ekstra hard. In die laaste aantal jare het die petrolprys met 49% gestyg terwyl heffings met meer as 120% gestyg het.”
Wat KKSP se resultate betref, het Malan gesê hul omset het die afgelope drie jaar met 5% gegroei tot R455miljoen terwyl hul wins tot R52miljoen gegroei het. “Ons is baie trots daarop,” het hy bygevoeg.
“Belangrik is egter dat ons aanvullende betaling in 2019 R17,5miljoen was en in 2020 R21,5miljoen.
“Vanjaar het ons R30 miljoen uitbetaal. Ons het uit ons pad gegaan en met die direksie se ondersteuning kon ons vanjaar so ’n groot uitbetaling doen,” het Malan gesê.
Hy het ook verwys na die impak wat die wisselkoers op aankope van produsente gehad het. “Verlede jaar het ons ’n bietjie meer aan produ-sente uitbetaal as vanjaar. Dit is egter regstreeks as gevolg van die sterker wisselkoers. Die gemiddelde wisselkoers waarteen ons verlede jaar uitbetaal het, was R15,65 per dollar. Dit het gaan draai by R19,26 per dollar. Vanjaar was die gemiddelde uitbetaling R14,54 en het dit by R15,50 gaan draai.
“Die impak hiervan is dat as ons die gemiddeld bereken, sou ons vanjaar R40 miljoen meer aan produ-sente kon uitbetaal, gebaseer op ver- lede jaar se wisselkoers. Dit is die omvang van die wisselkoers op uitbetalings,” het hy gesê.
Beveg spanning so, sê AJ Venter
Die oud-Springbokrugbyspeler AJ Venter wat as gasspreker opgetree het.
MENSE dink dikwels ’n Springbokrugbyspeler se lewe is net maanskyn en rose, maar spanning, teëspoed en uitdagings het in sy lewe ook sy tol geëis, het AJ Venter, oud-Springbokrugbyspeler, as gas-spreker by KKSP se onthaal gesê.
AJ het vertel hoe hy ’n paar jaar ná sy uittrede angsaanvalle begin kry het en uiteindelik met die hulp van ’n kundige geleer het hoe om spanning en negatiewe gedagtes te beheer. Hy gesels deesdae graag met gehore landwyd om dié kennis en wenke met ander te deel.
Hy het vertel dat hy baie gelukkig was om saam met van die beste spelers in die wêreld te kon speel en so ook baie oor spanwerk en leierskap te leer. In sy lewe was daar egter ook moeilike tye.
In sy graad 7-jaar is hy deur twee matrieks geboelie en het dit so erg geraak dat hulle sy voete een nag terwyl hy geslaap het aan die brand gesteek het. Die brandletsels is steeds op sy voete.
Ná sy rugbyloopbaan het hy vir SuperSport gewerk, maar hy het dié werk verloor sonder dat ’n rede verskaf is.
Terselfdertyd het hy die meeste van die geld wat hy tydens sy rugbyloopbaan gemaak het, deur besighede wat hy begin het verloor. Twee huwelike en twee lang verhoudings het alles misluk. Dis toe dat hy angsaanvalle begin kry.
AJ het vertel die volgende tegnieke het hom gehelp om sy spanning te beheer:
• ’n Mens kan jou gedagtes beheer. Negatiewe gedagtes is steeds slegs gedagtes. Identifiseer wat jou pla, soos kommer oor finansies, plaas dit in jou gedagtes in ’n ballon en stoot dit met jou hand weg.
• Maak elke aand ’n lys van 10 goed waaroor jy dankbaar is – soos familie, vriende, ’n blyplek ens.
• Beheer die data wat jy inneem. Jy kan besluit wat jy wil lees, waarna jy wil luister of kyk en met wie jy op sosiale media kontak het.
• As jy aanhou om dieselfde ding te doen, sal jou resultate dieselfde bly. Begin met klein veranderings en baie geduld – begin met 10 meter as jy die Comrades wil aflê. Niks gebeur vinnig nie.
• Moet nooit opgee nie. Al is jou rug teen die muur, kan omstandighede soms vinnig verander.
