Bewaringsboerdery werk selfs in droogte

‘Hierdie insigte het my benadering tot boerdery heeltemal verander’

Barry en Vivienne Meijer van die plaas Meijer’s Rust by die ingang na Meiringspoort. Foto: Tisha Steyn

Barry en Vivienne Meijer van die plaas Meijer’s Rust by die ingang na Meiringspoort. Foto: Tisha Steyn

Deur Tisha Steyn
DIE egpaar Barry en Vivienne Meijer boer met bonsmaras op die plaas Meijer’s Rust by die ingang na Meiringspoort. Ses jaar gelede het hulle van konvensionele ploeg-en-plant omgeskakel na bewaringsboerdery, en was nog nooit spyt nie.

Die plaas teen die suidelike hang van die Swartberge beslaan altesaam 4 900 ha, met die grootste deel bergfynbos. Sowat 105 ha is geskik vir bewerking, maar weens die droogte die afgelope vier jaar lê die grond grotendeels onbewerk.

Hoë insetkoste was een van die belangrikste beweegredes vir die omskakeling na bewaringsboerdery, sê Barry “Dit het al duurder geraak om weiding aan te plant, en al het ek toenemend meer chemiese bemesting gebruik, was die grond sonder enige teken van lewe.”

Hy het opgelet dat die grond waar kweek groei, in ’n beter toestand is en ’n beter waterhouvermoë het. Hy het ook gesien die beeste verkies dié soort gras en vreet dit gewoonlik eerste.

Dit het hom aan die dink gesit.

Sowat ses jaar gelede het Barry in ’n geen-bewer­kingsplanter belê en opgehou om die grond diep om te ploeg. “Die reënval het in daardie stadium begin afneem van ’n gemiddelde 370 mm/jaar, tot sowat 100 mm/jaar in 2017. Dit het in 2018 nog net 135 mm gereën.”

Hy het die oppervlak aangeplante weiding verminder tot 20 ha, waarvoor hy ’n bietjie besproeiingswater kon kry uit die

Grootrivier wat deur Meiringspoort vloei. Hy het ook sy beeste – hoofsaaklik bonsmara en bons­mara-kruisings van geregistreerde bulle – van 450 tot ’n kernkudde van 50 verminder.

Die beeste is goed aangepas by die bergtoestan­de en bewei soms die bergfynbos, maar die res van die tyd loop hulle op die aangeplante weiding.

Naas insetkoste was water ’n faktor. “Ek het ‘n manier gesoek om die grond se voghouvermoë te verbeter.

“Op die internet het ek afgekom op beeldmateriaal van Ray Archuleta, ’n Amerikaanse grond­kundige, wat gewys het hoe omgeploegde grond wegspoel, in teenstelling met grond wat deur plantwortels vasgehou word.”

Hy het ook die metodes van die Amerikaanse bewaringsboere Gabe Brown en Jay Fuhrer be­studeer. “Hierdie insigte het my benadering tot boerdery heeltemal verander,” sê Barry.

“Die eerste ding wat ek by die baanbrekers ge­leer het was dat grond te alle tye met plantmateriaal bedek moet wees. Diep bewerking lei daartoe dat die koolstof en vog in die grond verlore gaan.”

Uit ondervinding het hy geleer dat kweek (Cy­no­don dactylon) op Meijer’s Rust die geskikte ge­was is om die grond te beskerm, want die wortels keer dat die grond wegspoel tydens donderstorms. Die gras groei in volson en is taamlik droog­tebestand, wat dit ideaal maak vir somerweiding.

Plantmengsels
Met die geenbewerkingsplanter oorsaai hy die bermudagras met ’n verskeidenheid ander wei­dingsgewasse vir winterweiding.

“Ek het by Brown en Fuhrer geleer dat ’n mens ’n verskeidenheid weidingsgewasse moet plant om die mikrobes in die grond te voed en so die grond te verryk.”

Vroeër grondontledings het aangedui die stikstof-, fosfaat- en kaliumvlakke (NPK) is baie laag.

“Volgens Amerikaanse weidingkundige Gabe Brown sal die vlakke verbeter met dekgewasse en hoëdruk-beweiding, en ek kan klaar sien hoe die plante beter groei.”

Hy oorsaai die kweek met ’n mengsel van 14 ver­skillende voerplante in die somer, onder meer akker-ertjie, sojaboon, radyse, lusern, sonne­blomme, sorgum en mielies.

Die wintermengsel sluit sewe soorte voerplante in, wat onder meer swart- en rooiklawer, Japanese radyse, wei-erte en raaigras insluit.

“Die sonneblomme en bokwiet lok be­stuiwers, en die sonneblomme en mielies lok voëls.”

Die weidinggewasse in die mengsel ont­kiem nie almal gelyktydig nie. Hulle wortels dring die grond tot verskillende dieptes binne, en die gewasse is op verskillende tye geskik vir beweiding.

“Die belangrikste is dat daar te alle tye plantwortels in die grond en ’n blaarbedekking op die oppervlak moet wees.”

Die wortels keer dat die grond weg­spoel, sorg dat die grond goed deurlug word – wat voordelig is vir koolstof- en stikstofinhoud, en voed noodsaaklike bak­terieë in die grond wat, in interaksie met mikorisa-swamme, die grond gesond hou.

Die plantbedekking keer dat die grond uitdroog omdat die enigste waterverlies deur verdamping deur die blare plaasvind.

Hoe digter die plantbedekking is, is hoe minder onkruid kom voor, terwyl dit terselfdertyd heelwat meer voordelige insekte as skadelike insekte huisves, wat chemiese onkruid- en plaagbeheer oorbodig maak.

“Daar is ’n dramatiese toename in die hoeveelheid bye, skoenlappers, liewenheersbesies en voëls, asook erdwurms in die grond. Om nie eens te praat van die bobbejane wat die groen kosvoorraad geniet nie!  Gelukkig is daar genoeg kos vir hulle én weiding vir die beeste.”

Weidingbeheer
Die trop beeste bewei ’n gebied van 85 m² weiding per koei. Die beeste se bewegings word beheer deur ’n enkele elektriese draad, wat verskuif word na mate die beeste wei.

“Ons laat hulle net toe om 50% van die blaarbedekking te benut voordat ons die heining skuif. Dit laat genoeg blare vir fotosintese sodat die plante aanhou groei.”

Die grootste voordeel is dat heelwat minder water gebruik word en dat daar altyd groen weiding beskikbaar is; selfs te midde van die ergste droogte in 100 jaar waaronder die Klein Karoo tans gebuk gaan.

“Dit help ons om ons kernkudde aan die gang te hou.”

Besparing
Die hele plaas het in Desember 2017 afgebrand. “Weens die brand en die voortslepende droogte is dit moeilik om presies te bepaal hoeveel rand en sent die bewaringsboer­dery spaar,” sê hy.  “Die grootste bespa­ring lê daarin dat heelwat minder diesel benodig word vir trekkers wat moet ploeg, plant en gifwaens vir onkruid- en plaagbeheer moet sleep. Die belangrikste besparing lê daarin dat baie minder water nodig is om volhoubaar groen weiding te voorsien.”

Toekoms
Barry hoop om oor die volgende 10 jaar die 20 ha aangeplante weiding uiteindelik tot 70 ha uit te brei. “Ek hou daarvan om op die eenvoudige manier te boer. Ek glo boere wat nie bewaringsboerdery toepas nie, se kinders sal dalk eendag nie kan boer nie.

Ek dink boereverenigings moet die goeie boodskap uitdra. As hulle nou daarmee begin, sal alle boere oor 10 jaar bewaringboerdery toepas omdat dit soveel voor­dele inhou.”

• Kontak Barry Meijer by sel 072 495 5196 of  e-pos bmeijer@aol.com  vir meer inligting.