‘Jy moet met nuwe oë leer kyk’

Rika Venter (middel) gesels met Jolene Greeff (links) en Petro Stroebel, twee van haar kunsstudente, oor hul skilderye waarmee hul besig is. In die agtergrond is ’n skildery van Venter.                                               Foto: Liesel le Roux

Rika Venter (middel) gesels met Jolene Greeff (links) en Petro Stroebel, twee van haar kunsstudente, oor hul skilderye waarmee hul besig is. In die agtergrond is ’n skildery van Venter. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
Dit is ’n vriendelike Vrydagoggend in Rika Venter van Oudtshoorn se sitkamer.

Op 83 jaar het dié merkwaardige vrou weer kunslesse begin aanbied, en sy en twee van haar studente, Jolene Greeff en Petro Stroebel, vertel van hulle gesamentlike “kunsreis” die afgelope twee maande.
Venter is ’n voormalige kunsga­le­ry-eienaar en stigter van die SA Raad vir Sakevroue in 1982. Sy doen steeds werk as kunskurator en skilder ook steeds.

Die kunslesse het gespruit uit ’n ontmoeting tussen haar en Stroebel.

Stroebel, wat sê sy was 64 toe sy kuns ontdek en ’n paar kunslesse geneem het, vertel sy kan al die detail onthou van haar eerste besoek aan Venter se huis.

Sy het Venter nie geken nie en moes ’n skilder-esel by haar huis gaan aflaai. Toe sy egter Venter se skilderye in haar sitkamer sien, is sy so oorweldig deur emosie dat sy bykans nie kon beweeg nie.
“Ek wou haar daarna beter leer ken. Ek het haar een aand na my huis oorgenooi, en daar het ek vir haar gesê dat dit ’n tragedie is dat haar kuns verlore moet gaan.”

Dié woorde het Venter geraak en geïnspireer. Sy het Stroebel die volgende dag gebel en gesê sy is bereid om weer kunsklasse aan te bied, maar nie vir meer as vier studente nie.”

En so het Stroebel en Greeff twee van Venter se studente geword wat weekliks ’n kunsklas by haar bywoon.

“Ek is verslaaf aan hierdie vroue,” vertel Venter. Hulle deel hul emosies met my. Hulle gee my padkos.
“Dit is ook belangrik dat mense moet besef: As jy ouer word, moet jy nie opgee nie.”

Greeff sê kuns is iets wat sy ontdek het nadat haar kinders uit die huis is. “Ek het nie geweet ek kon ’n kwas optel nie. Nadat ek my kinders grootgemaak het, het ek begin dink: Wie is ek?” Sy het twee jaar kunsklasse ontvang en nou loop sy ’n verdere pad met Venter. “Sy het ’n ding in my losgemaak wat ek nie geweet het in my is nie,” sê Greeff.

Venter glo dit is belangrik dat ’n mens emosie moet ervaar om te kan skilder. Skilder is vir haar ’n proses van skep en ontdek.

“Ek vra my studente waarheen gaan hulle met ’n skildery. Wat is jou tema? Elke skildery moet ’n storie vertel. Dit is nie net ’n prentjie teen ’n muur nie.

“En jy moet met nuwe oë leer kyk. Ek kan nooit genoeg kyk wanneer ek met die pad tussen Oudtshoorn en George ry nie.”

Stroebel en Greeff skud instemmend kop.

“Ek het nooit voorheen besef hoe ’n mens die lewe miskyk nie,” sê Greeff.