Briewe / Letters

Munisipaliteit verkwis geld

Ek wil graag ons Huiseienaarsvereniging in Melkbossingel (Oudtshoorn) se ervaring met munisipale dienslewering met die lesers deel.

By die ingang in Melkbossingel het ’n redelike diep insinking in die straat – net agter die meganisme wat die veiligheidshek van binne aftrap – gaande­weg ontstaan. Ongeveer drie weke ge­lede het ek die paaie-afdeling gebel om te kom ondersoek instel. Na twee dae het hulle opgedaag en dieselfde dag het die eerste span werkers die twee randstene in posisie gelê.

Die volgende dag het ’n groot dub­belkajuit-vragmotor met sewe werkers opgedaag om die teer (ongeveer 1,5 m x 1 m) uit te kap vir die teerwerk. Slegs twee van die sewe werkers het gewerk en die res het staan en kyk en niks gedoen nie.

Twee of drie dae later het werkers weer opgedaag om die gat met iets wat lyk soos “concrete” halfpad op te vul en voor te berei vir die teerlaag. Hierdie keer het die meeste werkers weer net toegekyk en het die niksdoeners geen steek werk verrig nie.

Tot op datum (27/8) het niemand uitgekom om die teerwerk te kom voltooi nie, ten spyte van my vier oproepe na die paaie-afdeling waar ’n dame* elke keer beloof het sy stuur die werkers dadelik uit.

Die punt wat ek wil maak, gaan oor die swak beplanning, wanbesteding en vermorsing van ons belastinggeld. Dit is maklik om ’n som te maak wat dit ons belastingbetalers per maand ekstra uit die sak jaag vir hierdie ondoeltreffende beplanning, onnodige heen en weer ryery en salarisse vir onproduktiewe werkers wat rondstaan, toekyk en niks doen nie. Hierdie werk kon deur drie werkers binne twee ure voltooi gewees het. Een rit kon gedoen word en ’n paar rand se brandstofgeld bespaar gewees het. Deur doeltreffende beplanning kan die munisipaliteit in een belastingjaar duisende rande bespaar.

Elke jaar word ons belastinggeld eenvoudig verhoog. Dit is tyd dat die Raad en afdelingshoofde hul pligte na­kom en die onnodige salarisse wat aan werkers betaal word wat net rondstaan en nie ’n vinger verroer om iets te doen nie, stopsit.

Laastens wil ek voorstel dat ons spoe­dig ’n gemeenskaporganisasie ondersteun wat toesig sal hou oor die aanwending van belastinggeld in ons dorp. Ek maak die bewering dat die Raad en senior amptenare nie ’n flenter om­gee hoe belastinggeld vermors word nie. Dit is immers die geld wat sorg vir hul salarisse. Senior amptenare is blykbaar ook te laks om werkspanne te besoek en te kyk wat hulle verrig. Die maklikste oplossing is om die aantal spanne te verminder en behoorlike toesig en inspeksie te hou. As ons inwo­ners hierdie ondoeltreffende werks­ver­rigting deur werkers raaksien, hoe kan toesighouers en raadslede nie hiervan bewus wees nie?

Dit lyk of die Belastingbetalersver­eniging in die dorp nie werk nie. Al wat oorbly, is dat ons as belastingbetalers soos een man by Afriforum aansluit so­dat hierdie organisasie vir ons as wag­hond kan optree. Immers het Afriforum in ander dorpe in ons land al groot suksesse behaal.

Dit is ook tyd dat ons jong geslag in hier­die dorp betrokke raak voordat meer inwoners, veral afgetredenes, Oudtshoorn weens onbekostigbare belasting en vermorsing van geld deur die munisipaliteit verlaat. Vir my kom dit voor of die Raad nie opgewasse genoeg is of nie die wil het om ons belasting­geld teen onproduktiewe werknemers van die munisipaliteit te beskerm nie.

Dit is ’n gemene saak dat ek nie die enigste inwoner is wat al hieroor briewe geskryf het nie. Ek sal graag wil hê dat die Raad ons belastingbetalers in die openbaar ’n antwoord gee op hier­die feitestellings van my.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn
(* Die vrou se naam is aan die munisipaliteit deurgegee, en die brief aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie.)

’n Belewenis

My vrou Toy en ek was genooi na ver­lede Donderdagaand se 2017-sporttoe­kenningsdinee by Langenhoven Gim­nasium; Toy as motiveringspreker en ek as gas.

Dit was vir ons werklik ’n voorreg en ’n belewenis wat ek graag met die le­sers wil deel. Hierdie skool is ’n abso­lute model van hoe ’n skool behoort te funksioneer.

Ek was vandat ons arriveer het, beïndruk met die amper militêre presisie waarmee die funksie aangebied is.

Ons was reeds by die stigting van die almagamasieproses van hierdie instansie met die vroeëre Tegniese Skool betrokke as ouers en op die destydse be­stuur. Dan reeds het ek persoonlik voor­spel dat hierdie die topskool in ons gemeenskap sal word en ek was 100% korrek. Netheid, dissipline, gasvryheid en kwaliteit opvoeding is die spieël waarin ons Donderdagaand kon kyk. Ons het waarlik soos “royalty” gevoel.

Elke leerkrag, skolier en ouer kan met trots hul bors uitstoot om deel van hierdie puik opvoedingsinrigting te wees.

Ek deel graag ter afsluiting die volgende motto van ’n sekere legende in die Amerikaanse motorhandel as vervaardiger van die luukse Cadillac en Lincoln-voertuie uit die vorige eeu, ene mnr Leland: “When it comes to quality, good enough is not good enough. The best is better.” Dit is my gevoel na Donderdagaand se belewenis.

Baie geluk aan die hoof, mnr Potgie­ter en sy gade Elmarie, julle en jul personeel is “best”!
– Nico Ungerer, Oudtshoorn

Vier fees met ACVV se 100

Luister! Luister!
Die Aaa-Cee-Vee-Vee
nooi julle uit!
Met GROOT geluid!
Kom in die gees
en vier saam ons 100-jarige fees!
Oor die jare
soms in die gróót gevare
en deur lief en leed
dit móét jul weet;
Het vroue sing-sing
hul kant gebring.
So! Staan opsy!
Ons is hier om te bly!
Voort sal ons loop
met geloof en goeie hoop.
Sela
– Cecile Ungerer, Oudtshoorn