Ida Schmitt gesels oor die eerste KKNK van 1995. Foto: Liesel le Roux
Die derde van ’n reeks waarin Die Hoorn gesels met van die baanbrekers betrokke by die eerste KKNK in 1995 op Oudtshoorn.
Liesel le Roux en Christine Schoeman het by Ida Schmitt gaan kuier, ’n bekende Oudtshoorniet met organisatoriese vaardighede soos min. Ida was byvoorbeeld die organiseerder van die eerste Relay for Life wat in Suid-Afrika (in 2007 op Oudtshoorn!) aangebied is en was ook een van die stigterslede van die KKNK.
Vertel ons van die begindae van die KKNK.
Ons was aanvanklik ’n klein groepie. Ek onthou die eerste vergaderings van die fees was in die Riempie
Hotel se eetsaal; en dit was ek, Nic Barrow, Andrew Marais, Santie de Jager, Rhodé Snyman en Danie Bester.
My herinnering is dat almal betrokke hierdie visie en drome gehad het, al was alle ander mense nie positief teenoor die idee van die fees nie. Die Grahamstad-kunstefees was daardie tyd dié fees, mense het nie die KKNK ’n kans gegee nie. Dit was dus ’n groot uitdaging om al daardie drome om te sit in uitvoerbaarheid. Ons was soos perde wat in die wegspringblokke gestaan het, gereed om weg te spring.
Ons het geweet wat ons wou doen, maar hoe moes ons dit doen?
Die eerste fees was ’n groot uitdaging, maar op die ou einde kon ek net dink: “Wow, is dit ons dorp? Gebeur dit regtig op Oudtshoorn?”
Selfs jare daarna as ek met die fees deur die dorp ry, raak ek emosioneel as ek die plakkate sien en terugdink aan al die plakkate van die eerste fees.
Orals was plakkate. Op elke muur, venster en heining. En saam met dit was die gevoel van ongeloof.
Ek dink die fees het gerealiseer omdat ons bly glo het dat dit sal werk en dit ’n kans gegee het, ondanks die negatiwiteit van sommige mense.
Dit was ’n saak van geloof. Ons het geglo dit was iets wat kon werk en dat daar ’n behoefte was.
En die fees in later jare tot vandag?
Ek dink die fees het gegroei in diepte. Dit is in ’n nuwe era en het ’n nuwe struktuur. In die begin het baie mense ook net kom fees hou, maar die klem het geskuif van net fees vier na die kunste.
Almal weet nou ook van die KKNK en hoe inklusief dit geraak het.
Dit wys ons ook dat dit plaaslike mense is wat dinge laat gebeur. Dit is goed dat professionele mense aangestel is om take te doen, maar dit is die kernmense wat op Oudtshoorn bly, wat meer betrokke was en is.
Hoe het jy by die KKNK betrokke geraak?
Ek was in daardie stadium die nasionale voorsitter van Jong Dames Dinamiek en ons het gedink as Afrikaanse organisasie kan ons ’n rol speel, al was dit net om die fees te bemark.
Ek was betrokke by die voedsel- en wynfees (later Liplekker) weens my gasvryheidsagtergrond. Ons moes alles self doen of vir ander wys hoe om dit te doen – ek het vir uitstallers gewys hoe om hul stalletjies op te maak, ons moes borde laat maak, die versierings doen.
Waarna sien jy uit by die 25ste fees?
Dit is ’n kuns om kunstefees te hou! ’n Mens moet elke dag ’n klein bederfie inpas. Ek stap by-voorbeeld graag lekker deur die hele feesterrein.
Ek is vanjaar ook opgewonde oor die oud-en-nuut-program van Cut Glass.
Watter vraag sal jy graag aan enige akteur/ sanger/regisseur/kunsternaar/betrokkene by die fees wou vra?
• Ek sal Hunter Kennedy wil vra of hy al sy lisensie gekry het? Hy kon mos nie bestuur nie!
En ek sou ook graag by Nataniël wou weet hoeveel pare skoene het hy.
• Ek wil ook weet waar ons vandag sou gewees het sonder die fees – as dit nooit gebeur het nie?
Daar is baie feeste wat daaruit ontstaan het, soos Aardklop. Waar sou ons Afrikaanse teater en musiek regtig daarsonder gewees het? Die feeste, soos ook Innibos en die Woordfees, werk almal in kohesie met mekaar en voldoen aan verskillende behoeftes.
Ek is seker die fees sal voortgaan. Dit is ’n baken van hoop, en bou brûe op alle vlakke.
Die feeste bring groei, en groei is belangrik, want anders stagneer ’n mens.