Vrou dien klag in teen KKNK-sekuriteitsbeampte

Verleentheid na toegang tot toilet geweier word

DIE Polisie ondersoek ’n klag van aanranding nadat ’n vrou (59) tydens die afgelope KKNK na bewering deur ’n sekuriteitsbeampte toegang tot ’n toilet by die De Jager Sport­kompleks geweier is.
Die voorval het volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie op 11 April plaasgevind.

Pojie sê ’n stoeiery het tussen die vrou en die sekuriteitsbeampte uitgebreek toe hy haar nie na die toilet wou deurlaat nie, en sy haar benat en bevuil het.

Die Burger het gister berig dat die sekuriteitsbeampte die vrou om haar maagspiere vasgehou het waarna sy beheer oor haar sluitspiere verloor het, en dat sy daarna uit die voorportaal uitgedra en buite neergegooi is.

Die vrou, blykbaar ’n “gesiene, professionele persoon” moes haar volgens die berig 500 m verder by openbare geiewe gaan was.

Pojie het gesê die saak word tans ondersoek en dat dat dit aan die senior openbare vervolger voorgelê sal word vir ’n beslissing of daar voortgegaan moet word met vervolging of nie. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Volgens Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, ondersoek hulle ook die voorval. “Ons sal, sodra ons verklarings van al die betrokke partye bekom het, ’n besluit oor optrede neem en dit met die klaer bespreek.”