Laat ons oor die KKNK praat

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Daar is ’n paar dinge waaroor die afgelope sowat elf dae druk in die streek gesels is, die KKNK en of dit volgens inwoners suksesvol was of nie, die stortreën op 9 April wat tot die dood van ’n jong vrou naby Prins Albert, die verspoeling van ’n ge­deelte van die Swartbergpas én bruin water op Oudtshoorn gelei het, en natuurlik die tragiese dood van ’n kind na ’n fratsongeluk by die KKNK.

’n Paar gedagtes oor die KKNK en gesprekke en vrese van inwoners:

Die ontstellende deel van baie gesprekke oor die KKNK was die on­kunde van stellings wat mense ge­maak het en die negatiwiteit van baie – veral Oudtshoorniete – oor die fees.

Dit is iets wat al jare aankom. Die verstommendste is dat ’n groot deel van Oudtshoorn se inwoners na 23 jaar steeds salig onbewus is watter waarde so ’n fees tot ’n plattelandse – en deesdae ietwat armoedige – dorpie byvoeg. Hulle verstaan klaarblyklik nie dat elke persoon van buite wat brandstof ingooi, ’n hamburger koop of iewers oorbly, bydra om die dorp se ekonomie aan die gang te hou en werk vir mense te verseker nie.

Hulle verstaan nie dat die fees jaarliks duisende mense na ’n afgeleë dorp laat reis en ’n reuse advertensie is vir die omgewing se skoonheid en so ook toerisme stimuleer nie – weer eens iets wat ’n afgeleë plattelandse dorp nodig het om te oorleef.

En, jammer om te sê, baie mense verstaan nie dat hierdie ’n kunstefees is nie. Dis nie die Klein Karoo Nasio­nale Stalletjiesfees of Stratefees nie. Toegegee, die stalletjies en pret in die strate is lekker. Dit sou net so lekker gewees het as borge uit die lug geval het om weer soos “in die goeie ou dae” groot tente vol gratis vermaak aan te bied, maar dit is 2017 en sulke borge draai ook deesdae hul sente om én om. Selfs groot sportspanne sukkel deesdae om borge te kry. En jammer om te sê, maar R50 vir ’n dag in die Rivierbuurt vol stalletjies en ’n gratis aandkonsert daarby ingesluit, is in 2017 seker van die goedkoopste vermaak wat jy kan vind.

Vir diegene wat kerm dat die fees te stil was, is daar troos. Baie van die produksies se sale was gepak, en kritici is dit eens dat die gehalte daar was.

Maar: Daar is beslis op Oudtshoorn werk om die KKNK en die gemeenskap nader aan mekaar te laat beweeg.

Inwoners het duidelik ’n behoefte aan meer van ’n kuierfees, terwyl die KKNK voel dat inwoners en sakelui hul moet bystaan deur besoekers nie met byvoorbeeld kos en verblyf uit te buit nie. Dit sal goed wees as iemand ’n gesprek tussen inwoners en die KKNK kan fasiliteer om inwoners se kommer en klagtes en ook goeie voorstelle wat ons soms hoor, aan te spreek. Dit is mos altyd goed vir mense om na mekaar te luister.