Toneel gaan inspireer, ontroer, laat lag

“2020 se KKNK is saamgestel om aan ’n ieder en elk iets te bied. Ons wil hê families en vriende moet hier in die Klein Karoo kom ontspan en wegbreek van die alledaagse.”

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat die KKNK aanbied.

“Gratis vermaak en gesprekke word aangebied en jy kan die fees geniet sonder om jou sente te veel om te draai. Ons bied net die beste aan en jou gunstelingkunstenaars is almal deel van die program. Dit sluit baie debuutwerke in, maar ook die beste werk van die afgelope jaar. Jy kan hier rojaal kom fees!”

Onder die opwindende toneelaanbod tel Die Atleet, ’n inspirerende ware lewensverhaal geskryf, geregisseer en vervaardig deur Lizz Meiring. Dit vertel die storie van ’n jong weeskind en ’n ouer vrou en hoe albei se lewe verryk word deur atletiek. Die Atleet word gespeel deur Reginald Hufkie, wie se lewe die inspirasie vir die toneelstuk was.

Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman is die ensemble in een van Europa se mees gevierde teaterskrywers, Lars Norén, se Terminaal 3, met regie deur Marthinus Basson. Dit speel af in ’n hospitaalwagkamer waar ’n jong ouerpaar wag op die koms van hulle eersteling, terwyl ’n ouer geskeide paar die lyk van hulle 19-jarige seun moet uitken.

Karatara is ’n debuutproduksie aangebied deur die dinamiese Figure of 8-dansgeselskap wat die verlies binne ’n gemeenskap ná die Knysna-brande deur middel van beweging en teks met besondere trefkrag uitbeeld. Lara Foot se treffende The Inconvenience of Wings, vertaal deur Saartjie Botha met die titel Die Vermoeienis Van Vlerke, ondersoek bipolêre versteuring en die impak van geestesongesteldheid op ’n egpaar en ook diegene in die binnekring van hulle lewe. Die regie word behartig deur die waaghalsige Sylvaine Strike met Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg as die kompulsiewe en gekompliseerde egpaar.

Queenie-Hulle (geskryf deur die regisseur Christo Davids met onder andere Jill Levenberg en Brendon Daniels) en Tien Duisend Ton (met Cintaine Schutte en Albert Pretorius) is twee toneelstukke wat reeds met groot sukses by ander feeste opgevoer is. Hawelose Kaapse bergies en hulle kwesbaarheid is op die spel in Queenie-Hulle en Tien Duisend Ton bekyk ’n jong paartjie se verlange na ’n kind, die impak van klimaatsverande-ring op hulle besluite en die vermoë om aan te pas in die vinnig-veranderende wêreld. Albei toneelstukke is benoem vir ’n hele paar kykNET Fiësta-pryse.

Die gedugte akteurs Jana Cilliers en Dawid Minnaar span saam in Wilde-Als, geskryf deur Wessel Pretorius, wat ook die regie behartig. Dis ’n stuk wat kreatiwiteit ondersoek op ’n heerlike kreatiewe manier.

Daar is ook ’n hele paar lekker solostukke, onder andere die teaterveteraan Sandra Prinsloo in Kamphoer: Die Verhaal Van Susan Nell, die veelsydige Cintaine Schutte in Die Dinge Van ’n Kind, ’n nostalgiese Hannes van Wyk in Sê Groete Vir Ma, ’n vermaaklike Chris Vorster in Die Hart Verklap, ’n verspotte Dowwe Dolla: Nou of nooit! en die lekker-lag Marion Holm.
Zolani Mahola, bekend as die hoofsanger van Freshlyground, vertel haar eie verhaal in die inspirerende solo-vertoning The One Who Sings.