‘My betrokkenheid het by Pieter Fourie begin’

André Boezak. Foto: Liesel le Roux

André Boezak – predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Bridgton, lid van die KKNK-stigters-komitee, oud-direksielid, storie­verteller, skrywer en kunsteliefhebber wat al sy eie produksies na die KKNK gebring het, het aan Liesel le Roux en Christine Schoeman meer vertel oor sy verhouding met die fees oor die jare

SY betrokkenheid by die KKNK het by Pieter Fourie begin, vertel ds André Boezak dadelik tydens ’n gesprek met Die Hoorn.

“Hy was pas by die fees aangestel toe hy my, Tom Johnson en Poem Mooney genader het vir ’n verkennende gesprek in Foster’s Folley, waar die feeskantoor was.

“Ek onthou toe ons by hom instap, was daar net ’n tafel, ’n paar stoele, kaas met ’n mes in en ’n bottel rooiwyn. Dit het vir my sóveel simboliek gehad.

“Ons het in die boonste vertrek gesit. Dit sal my vir ewig bybly, daardie prentjie: sagte lig, donker meubels, houtvloere, kaas met die mes in en wyn. Ek wil dit nie heeltemal heiligheid noem nie, maar ek sal dit nooit vergeet nie.

“En dan Pieter Fourie; met sy besadigde stem, half liefdevol-intimiderend, maar tog oortuigend. Hoe hy ons so maklik laat inkoop het in die idee van die fees. Ja, ek het in die fees ingekoop oor Pieter Fourie en omdat kuns vir my belangrik is.”

Sy bereidheid om betrokke te raak by dié fees het egter teen ’n prys gekom, vertel Boezak.

“Toe begin die hel.

“Mense het my beskuldig dat ek ’n ‘baasboetie’ is en ‘die wit mense’ se guns wil wen. Dit was vir my baie moeilik en iets wat lank skuldgevoelens by my veroorsaak het. Ek het heeltyd hierdie gevoel gehad dat ek iemand verraai. Die bruin gemeenskap het baie woede in hulle gehad en hulle het ’n slaansak gesoek.

“Toe raak ek deel van die eerste komitee en dit was soos ’n nuwe wêreld wat vir my oopgegaan het. Aan die een kant onbekend, maar tog so be­kend. Ek het gevoel ek hoort daar, want die mense praat kuns.

“Maar ek het myself steeds half in ’n tweestryd bevind. Daar is iets in jou binneswese wat aanklank vind met wat die mense doen, en dan kom jy buite en word aangekyk met die houding van: Waarmee is jý besig? Die vyand!

“Dit was baie moeilik en het gemaak dat ek weinig kaartjies aanvaar het en nie in die Kannalandkamer wou eet nie, want ek het ’n skuldgevoel gehad dat ek, volgens mense, besig is om die gemeenskap uit te verkoop. Die fees is mos gesien as ’n ‘wit besigheid’.

“Wat my die kwaadste gemaak het, was toe die fees aan die gang gekom het, het almal dadelik op die wa geklim, en toe was dit alles oukei…”

Daar is ervarings tydens daardie eerste feeste wat Boezak sê hy nooit sal vergeet nie. Soos die treinrit van George na Oudtshoorn saam met ’n klomp bekendes.

“Nou ry ek saam met Jan Spies en, ek dink, Poem-hulle. Nou kyk Jan by die vensters uit en hy begin sê: ‘Kêrels, maar dis groen! Dit is só groen!’ So het hy die hele pad aangehou en ons het dit so geniet!

“Vir my het dit van die begin gegaan oor kuns en ek is bly ek kon myself uitleef. Soos om op ’n stoep in Outshoorn te sit saam met André P Brink en te gesels.

“As ek ’n storie vertel het, het hy altyd vir my gesê: ‘Moet my nie jou stories vertel nie, ek gaan dit steel! Skrywers is skelm, skryf dit self.’

“Daar is ek bevrug. Sy woorde het gemaak dat ek in 2012 my eie boeke begin uitgee het en nou skryf ek al aan my sesde boek.

“Die fees stel jou bloot aan reuse; om net hand te vat of verby iemand soos Jan Rabie te stap en daardie aura te voel. Of om saam met Jan Spies in ’n trein te ry of saam met Tolla van der Merwe op te tree.

“Die mooi van die fees was ook dat mens besef het hierdie ‘reuse’ is eintlik net mense. Soos om met prof Hans du Plessis te gesels. Hy is eintlik oom Hans!”

Boezak sê hoewel die inhoud van die fees nie altyd na sy smaak was nie, is die positiewe invloed wat dit op mense gehad het – ook van Oudtshoorn – veel groter.

“Ek wil vir die mense vra wat so gif gegooi het: En nou? Die KKNK het ’n speelpark vir ons kinders geskep. Daar is nou ’n Marlo Minnaar en ’n Paul Amas, ’n Riaan Visman en ’n Eldene Jones. Die fees inspireer ander en gee jou selfvertroue.

“Ek sou byvoorbeeld nie die guts gehad het om in 2000 en in 2004 my eie produksie na die fees te bring nie. Die hoogtepunt daarvan, en ek spog daarmee, was ’n bywoningsyfer uit my gemeenskap van 80% op ’n Sondagaand!

“Die fees het my die selfvertroue gegee om te waag en te sê hier staan ek en ek waag. Klim uit die kas uit en doen ’n ding op jou eie. Dit is nie nodig om afhanklik te wees van ander nie. Jy hoef nie te kyk na groot uitgewers nie.

“Ek het ook gewaag om my eie musiek te skryf met my beperkte vermoëns. Ek sou nie as dit nie vir die kuns­tefees was wat gesê het ‘glo in jouself’ nie, en die ruimte geskep het vir mense om nie aan ’n naelstring vas te bly nie maar self teen die meubels op te staan en vir die wêreld te sê: Hier is ek ook!
Boezak sê die Fokofpolisiekar-debakel in 2006 was egter ’n keerpunt. Christen-Oudtshoorniete was ontsteld oor die woorde, F*k vir God, wat Wynand Myburgh, baskitaarspeler van die groep, op die beursie van ’n tiener ná ’n optrede op Witbank geskryf het.

“Ek het van die fees onttrek. Ek glo in vryheid van spraak met verantwoordelikheid. Ek is nie ’n godsdienstige fanatikus nie, daarvoor is ek te veel van ’n sondaar as mens, maar ek moes ’n standpunt inneem en my kunshoed afhaal en ek is bly ek het.”

Die instelling van die Rivierbuurt in 2010 was ook vir hom ’n bron van kommer omdat hy gevoel het inwoners word uitgesluit.

“Ek kan nie aan iets deelneem waar mense uitgesluit word nie, want baie kon die toegangsgeld nie bekostig nie. Dan sluit ek liewers myself uit.”

Maar daar het heling in sy verhouding met die fees gekom en verlede jaar was Boezak weer be­trok­ke by die Uitkampteater en het hy daar stories vertel.

Die kunste lê inderdaad diep in Boezak se wese. Hy vertel van ’n stelling wat hy in 1992 tydens ’n onderhoud met die dagblad Beeld gemaak het: “Die regering kan met al sy inisitatiewe kom, maar as hulle die kunste afskeep, dan word die siel afgeskeep. Bou aan mense se beeld en persoon op ’n kuns­vlak, en jy bou ’n beter mens.”

“Ek het altyd die standpunt gehad: as ’n ding nie heeltemal reg is nie, sou dit nie werk nie, maar die KKNK werk – al is daar foute. Ek het al baie kritiek teen dit gehad, maar hy werk.”