Wen kaartjies na 2 KKNK-produksies!

Foto links: Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm (voor), en Neels Coetzee en Ilne Fourie in die komedie Laerskool Noord. Foto regs: Margit Meyer-Rödenbeck as Liewe Heksie

Laerskool Noord gaan lagtrane laat rol!

LAERSKOOL NOORD se leuse is Kyk noord en stoot voort, maar in hierdie lekkerlag-produksie by vanjaar se KKNK is dit allesbehalwe die geval. Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee is in dié komedie te sien.

Drie onderwyseresse beplan ’n verrassings­afskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Tus­sendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vrees­lose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper en seëvier, met haar glitter stickertjies en sticky notes, is hierdie personeelkamer ’n tikkende tydbom. En boonop gaan Meneer enige oomblik aankondig wie by hom oorneem as die nuwe hoof van Laerskool Noord. Kan dit een van hulle wees?

Laerskool Noord is by die kykNET Hoërskoolsaal op die planke op Vrydag 7 April om 09:30; 8 April om 09:30 en 9 April om 13:30. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 13.

Liewe Heksie terug by KKNK!

DIE geliefde Liewe Heksie is met die KKNK terug in die Klein Karoo met die perfekte vermaak vir die hele gesin!

En twee van Die Hoorn se lesers kan elkeen ’n dubbelkaartjie wen na die produksie Liewe Heksie vang vis deur ’n vraag regs onder te beantwoord.

Vanjaar span Heksie haar besem in as ’n visstok, maar dit is maar ’n gesukkel om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang! Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ’n nuwe ene.”

Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het dring-end hulp nodig en Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie ge­- hoordeelname en voortsnellende aksie!

Margit Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf. In 2022 het dieselfde span die Kanna-toekenning ontvang vir beste kinderteater by die KKNK.

Liewe Heksie vang vis is op 6 April om 09:30; 8 April om 12:30 en 9 April om 9:30 te sien in die saal van die Laerskool Wesbank. Kaartjies By Webtickets en Pick n Pay.

Wen so ’n dubbelkaartjie na dié produksies:

  • Wen so ’n dubbelkaartjie na Liewe Heksie vang vis: WhatsApp jou naam en van, selnommer en antwoord op die vraag Wie in die vertoning is Liewe Heksie se vriend? voor Saterdag (1 April) om 13:00 na 076 606 2554.
  • Wen so ’n dubbelkaartjie na Laerskool Noord: WhatsApp jou naam en van, selnommer en antwoord op die vraag Wat is Laerskool Noord se leuse? voor Saterdag (1 April) om 13:00 na 076 606 2554.
    Dui aan na watter vertoning jy sal wil gaan. Wenners sal per WhatsApp gekontak word.