Garnett Wicomb by die bekendstelling van die 25ste KKNK op Oudtshoorn vroeër vanjaar. Foto: Ilse Jordan
Die vierde in ’n reeks waarin Die Hoorn gesels met baanbrekers betrokke by die eerste KKNK in 1995 op Oudtshoorn. Vandeesweek aan die beurt is die bekende Garnett Wicomb – gesoute joernalis, sportman van formaat en bekende inwoner. Hy gesels só oor die eerste fees:
Die eerste fees in April 1995 was na my mening een van die beste dinge wat met Oudtshoorn kon gebeur het. Soveel so dat dit vandag nog ’n geweldige hupstoot beteken vir die dorp se ekonomie.
Ek onthou dat baie aktiwiteite tydens die eerste fees in Baron van Reedestraat en veral in die omtrek van die Queen’s Hotel plaasgevind het. Die stoep van die hotel was ’n groot kuierplek met gereelde televisieopnames deur Freek Robinson.
Een van die hoogtepunte van die eerste KKNK, en iets waaraan die feesbestuur sal moet dink om terug te bring, is die Kaktus op die Vlaktes-konsert op die Rec.
Dit was ’n mengelmoes van kunstenaars wat daar opgetree het. Dit was Laurika Rauch, Lochner en Richard, Lucas Maree, Ray Phiri en Nico Carstens, Cutt Glas, Pieter van der Westhuizen, Thandi Klaasen, Johannes Kerkorrel, Steve Hofmeyr, die Rasta Rebels, Christies Jazz, Positive Force en Mimi Coertse en Nataniel in duet.
Ek onthou die feesdirekteur, Karen Meiring, se woorde dat hulle iets vir die mense wou gee wat wat hulle nog nooit gesien het nie.
Integrasie was ook belangrik. Tussen 2000 en 3000 mense het die eerste Kaktus op die Vlaktes bygewoon!
Nog iets van die eerste KKNK was dat die venues baie warm was omdat daar nie oral lugversorging was nie.
Wat was jou betrokkenheid by die eerste KKNK?
Ek was van die Oudtshoorniete wat die eerste vergaderings met Nic Barrow bygewoon het en dus een van die handjievol lede van die KKNK, nou Kunste Onbeperk.
Ek was tydens die eerste KKNK ook nog ’n korrespondent vir die Oudtshoorn Courant met Rhodé Snyman, wat later voltyds by die KKNK aangestel is, as redakteur. My taak was om soveel stories moontlik oor die fees te skryf en natuurlik foto’s te neem. En watter lekkerte was dit nie. Almal wou in die koerante wees en hul foto’s gepubliseer sien.
Waarna sien jy uit by vanjaar se 25ste fees?
Ek sien in besonder uit na Amanda Strydom se opvoering Miss Mandy, juis omdat sy die enigste kunstenaar is wat nog by elke KKNK opgetree het.
Tweedens sien ek uit na die vlagskipproduksie, die eietydse drama Koningin Lear, wat op Shakespeare se King Lear geskoei is met Marthinus Basson as regisseur en ontwerper, die bekroonde ak- trise Antoinette Kellerman in die rol van die mag-tige sakevrou en met Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais saam met haar op die verhoog.
Verder sien ek uit na die opwindende program van die Kuierbuurt waar daar weer op groot skaal musiek gemaak en aandkonserte vir almal aangebied sal word met van die land se topmusikante soos Karen Zoid, Jo Black, Refentse, Robbie Wessels, Corlea Botha, Early B, Bobby van Jaarsveld, Juanita du Plessis, Theuns Jordaan en die Soweto String Quartet.
Ek wil ook nie ons eie Marlo Minnaar se vertoning in Athol Fugard se ikoniese toneelstuk Statements After an Arrest Under the Immorality Act misloop nie.
Verder sien ek uit na die visuele kunsuitstallings waar byna al die feeskunstenaars van die afgelope 24 jaar terug sal wees asook ’n uitstalling van ’n Ode aan Oudtshoorn en die Klein Karoo.
Is daar enige vraag wat jy vir enige kunstenaar/regisseur betrokke by die fees wil vra?
Ten eerste sal ek baie graag vir Amanda Strydom wil vra waarom sy elke keer terugkom Oudtshoorn toe. Ek sal ook vir haar wil vra wat haar toekomsplanne is gesien in die lig dat sy vanjaar haar 40ste jaar in die bedryf vier.
Een van die oomblikke wat ek van haar sal onthou, was toe sy die oggend met oud-pres Nelson Mandela se aankoms op die Rec vir hom gewag en gegroet het. Sy was so opgewonde daardie oggend ten spyte van ’n laat nag se kuier.
En as daar een regisseur is vir wie ek ’n vraag wil stel, is dit Marthinus Basson wat ook al ’n lang pad saam met die KKNK kom.
Ek sal hom wil vra by wie hy die kuns van regisseurskap geleer het omdat hy so ’n meester op sy gebied is.