Charlie en Elmien Swanepoel by die afgelope Saterdag se 40ste verjaardagvieringe van Swan’s Kwekery op Oudtshoorn saam met hul skoonseun Henties de Villiers (links) en seun Ludwig (regs). ’n Groot groep tuingeesdriftiges het die verjaarsdagvieringe die oggend by die kwekery bygewoon en al die interessante praatjies, baie wenke, gelukkige trekkings en verrassingsgeskenke terdeë geniet. Foto: Liesel le Roux
TER wille van ’n gebou se historiese waarde, behoort moderne metodes en boumateriaal vermy te word wanneer kleimure gepleister word. In die ou metodes is die gebruik van kalk baie belangrik, omdat dit sterker bind, makliker aanwend en bestand is teen krake.
Pleister vir kleimure bestaan uit:
• Gewone Portland-sement;
• Boukalk gemerk: SABS 523-1972-merk (Belangrik: geen landboukalk of kitskalk nie.) SABS staan vir Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde.
• Die sand bepaal die kwaliteit van die pleister. Daarvoor word SABS 1090-1976 aanbeveel.
’n Algemene pleisterresep vir ou geboue is: 1 deel sement, 2 dele kalk en 9 dele sand – 1:2:9.
Die aanmaakproses:
Strooi die sand op ’n harde en skoon oppervlak en voeg die sement en kalk by en meng deeglik met die sand.
Voeg skoon water in die middel van die mengsel by tot dit ’n dik pasta vorm wat maklik op die troffel en aan die muur klou. Die mengsel behoort binne ’n uur aangewend te word en sal ’n oppervlak van 15 x 15 m dek teen ’n dikte van 10 tot 12 mm. ’n Klam sak kan die mengsel langer bruikbaar hou.
Volgens ’n ander bron moet die 9 dele sand en 2 dele kalk eers met water natgemaak word en dan met ’n sak van natuurlike weefsel toegegooi word, dan met ’n tuinslang verder natgemaak word en oornag gis.
Die volgende dag moet dit deurgewerk, toegegooi en natgegooi word om nog ’n nag deur te gis. Eers op die tweede oggend word die 1 deel sement by gemeng, natgemaak en is die pleistermengsel gereed vir gebruik nadat dit 30 na 60 minute gerus het.
Gereedmaak van die muuroppervlak:
Die oppervlak wat oorgepleister gaan word, moet deeglik skoongemaak word, sodat die nuwe pleister behoorlik met die muur kan bind. As die kleimuur te bros is en verkrummel, moet professionele hulp ingeroep word.
Voordat die nuwe pleister aangewend word, moet die muur egalig natgemaak word omdat poreuse kleistene die vog uit die nuwe pleistermengsel sal absorbeer en die nuwe pleisterlaag sal ver- swak. ’n
Ander bron beveel aan dat die muur wat gepleister moet word, drie dae lank drie maal per dag natgemaak moet word. Sou die muur egter weens reën of ander redes te nat word, moet dit eers weer uitdroog
Aanwending van die pleistermengsel
’n Houttroffel se afwerking word verkies bo ’n moderne staaltroffel, omdat hout ’n afwerking gee wat lyk na ou mure se tekstuur.
Moenie begin pleister in baie warm of koue of winderige weer nie, want inkrimping en uitsetting kan krake veroorsaak.
Gebruik ’n pleisterplank waarvandaan die houttroffel ’n hoeveelheid pleister op die muur kan aanewend.
Gebruik ’n mate van drukking met die aanwending en hou die laag 10 tot 12 mm dik. Om te verhoed dat die pleister afsak, moet dit nie te dik aangewend word nie.
Die pleisterlaag mag nie vinnig droog word nie. Om dit te verhoed moet dit daagliks vir ’n paar dae met ’n fyn sproei klam gemaak word. Elke laag moet stadig droog word. In Engels word dié behandeling damp curing genoem. Pleisterlae op mure en stene kan tot 30 mm dik wees.
Om voor te berei vir ’n tweede laag moet die eerste laag grof afgewerk word Daar kan groewe/ skrape van 3 tot 5 mm diep en 10 mm uitmekaar gemaak word terwyl die pleister nog plooibaar/sag is. Dit word gedoen om die tweede laag wat later aangebring sal word, te laat klou.
Die laaste laag moet vogbehandel word vir ten minste sewe dae om die risiko van inkrimping en kraking te voorkom.
• Die gebruik om ’n versterking van maasdraad (mesh wire) of ogiesdraad te gebruik sowel as die afwit van die muur word by ’n volgende keer bespreek in Die Hoorn van 14 November 2019.
• Bron: Sahra (South African Heritage Resources Agency)