WENK: Maak so met wasmasjien se water
’n Sagte pyp wat opgerol word wanneer dit nie gebruik word nie, kan die wasmasjien se water na ’n grasperk neem om die huidige droogte te oorleef.
DIE massiewe besparing wat die herwinning van water by sy besigheid tot gevolg gehad het, het ’n sakeman van Oudtshoorn nou geïnspireer om ook waterherwinning by sy huis toe te pas.
Deon Bosman, eienaar van Super Car Wash, het verlede jaar ’n waterherwinningstelsel by dié besigheid aangebring waarmee tot 80 persent van die water wat gebruik word om voertuie te mee te was, herwin word. Tans gebruik hy minder as ’n kwart van die water wat hy voor die installasie gebruik het. Dit het van 110 kl per maand tot 33 kl per maand gedaal en ná ’n paar verstellings na 25 kl per maand, vertel Bosman.
Hy sê hy sien uit om op sy volgende munisipale rekening te sien watter besparing daar by sy huis ook gaan wees. “Al die water in ons huis word nou herwin, behalwe die water van die toilette en die kombuiswasbak,” sê Bosman.
Hy het stopkrane by die wasbak, bad en stort in twee badkamers geïnstalleer sodat die water in ’n 2 000 liter-watertenk inloop. ’n Tweede 2 000 liter-tenk word twee maal per week met gryswater gevul. Die water uit die twee tenks gebruik hy in sy tuin.
Hy het voorts twee geute met die swembad verbind sodat reënwater van die dak daarin kan loop.
• Gawie Bekker, een van die Oudtshoorniete wat tans gryswater by inwoners aflewer, sê al hoe meer inwoners van die Klein Karoo installeer deesdae watertenks. “Ek help mense daarmee en dit raak al baie algemeen,” sê hy.