• Landdros besluit weermagdokter se saak gaan voort
Deur Garnett Wicomb
’N AANSOEK om ontslag van ’n dokter verbonde aan die Infanterieskool op Oudtshoorn wat tereg staan op klagtes van verkragting en seksuele aanranding is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys.
Die regsverteenwoordiger van Danzil King, adv Benito Metembo, het die hof versoek om sy kliënt ingevolge Artikel 174 te ontslaan.
Volgens Metembo het die staat nie ’n prima facie-saak teen sy kliënt nie.
Volgens hom het dr Charlston Dreyer, wat een van die klaers ondersoek het, erken dat hy nie fout kon vind met die manier hoe die beskuldigde haar ondersoek het nie.
Die beskuldigde behoort op die weergawes van die twee rekrute wat glo deur hom met sy vingers gepenetreer en seksueel aangerand is, vrygespreek te word, het Metembo betoog.
Die staatsaankler, Nadia le Roux, het die aansoek teengestaan omdat daar volgens haar wel getuienis voor die hof gebring is wat tot skuldig- bevinding kan lei.
“Die staat sê nie daar is nie gebreke in sy saak nie, maar daar is ook geen gronde vir ontslag ten opsigte van Art 174 nie,” het sy gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het na ’n kort verdaging die aansoek van die dokter van die hand gewys.
Boks het redes vir sy weiering voorbehou.
Die saak is daarna vir voortsetting van die verhoor tot 20 September uitgestel.
King se borgtog van R5 000 en sy borgvoorwaardes is deur die landdros verleng.