
• Diefstal en huisbraakaanklagte:
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen twee mans van De Rust wat op drie aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal teregstaan, is Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof uitgestel nadat hulle besluit het om voortaan hul eie verdediging waar te neem.
Die twee beskuldigdes, Mitchell Louw (24) en Booi Luiters (27), het die hof meegedeel dat hulle nie meer van regshulp gebruik wil maak nie. Hulle wou ook weet waarom hul saak nie afgehandel kan word nie.
“Alles word gedoen om sake so spoedig moontlik af te handel, maar die hofrolle is geweldig vol,” het landdros Lorraine Samuels aan die twee verduidelik.
Volgens haar het die betrokke hof (Hof C) sedert Januarie vanjaar reeds 371 nuwe sake gekry.
Hulle is deur Samuels gemaan om hul besluit te oordink en gevra of hulle wetenskaplike getuienis sal kan hanteer waarop hulle bevestigend geantwoord het.
Volgens die landdros staan hulle tereg op drie ernstige aanklagte. Sy het hulle ook ingelig dat indien hulle getuies wil roep en nie daarin slaag om die persone in die hande te kry nie, hulle die name aan die staat kan voorsien sodat die persone gedagvaar kan word.
“Hiervoor is sowat veertien dae nodig en daarom moet die saak uitgestel word,” het sy gesê.
Volgens Samuels word sake in die ander twee distrikshowe reeds tot September uitgestel vanweë die groot aaantal sake op die hofrolle.
Die hof het gelas dat die dossiere aan Louw en Luiters voorsien moet word sodat hulle hulself vir die verhoor kan voorberei.
Louw en Luiters word daarvan aangekla dat hulle op 29 April 2017 te Schoemanstraat, De Rust, by die waenhuis van Stehen du Plessis ingebreek en ’n sweismasjien ter waarde van R2 000, ’n boor ter waarde van R1 500, ’n Rayobi koordlose boor van R1 000, ’n battery ter waarde van R500, tange ter waarde van R500, ’n boorpuntestel ter waarde van R500 asook drie duursame messe ter waarde van R2 500 gesteel het.
Hulle het tussen 9 April en 16 Mei 2017 glo ook te Vyfde Laan 98 in De Rust by die huis en buitekamer van Marthinus Janse van Rensburg ingebreek waar hulle na bewering ’n Sony platskerm-TV, kamera, klerasie, radio, drank en blikkies kos gesteel het.
Die saak is op versoek van die staatsaanklaer, Vandana Premchand, tot 22 Augustus uitgestel.