Deur Garnett Wicomb
’N AANSOEK van ’n man om te appelleer teen sy vonnis van 15 jaar vir twee aanklagte van verkragting, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof van die hand gewys.
Jacob Malgas is in November verlede jaar deur streeklanddros Daniel Boks skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting.
Sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, het aan die hof gesê dat sy kliënt van mening is dat die hof fouteer het met sy skuldigbevinding en dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing sal kom.
Volgens Malgas wil hy ook nuwe getuienis voor die hof bring.
Volgens Malgas het verklarings van die klaagster glo weggeraak en het die ondersoekbeampte tydens sy borgaansoek “verkeerdelik getuig”.
Boks het in sy uitspraak gesê hy glo nie dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing kan kom nie.
Volgens Boks strook getuienis wat voor die hof gebring is, nie met die gevonnisde se getuienis dat hy met toestemming gemeenskap met die vrou gehad het nie en is die vonnis van 15 jaar is nie buitensporig swaar is nie.
“Daar was geen wesenlike of dwingende omstandighede om ’n ligter vonnis op te lê nie.”
Hy het gesê Malgas het ook vorige veroordelings wat die vonnis van 15 jaar regverdig en daarom is die aansoek om teen die vonnis te appelleer ook van die hand gewys.