Lasbrief vir jeugdige gelas

Deur Garnett Wicomb
Die saak teen drie mans en ’n jeugdige van De Rust wat daarvan aangekla word dat hulle ’n vrou en haar broer in ’n plaashuis buite De Rust met messe gedreig en beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof tot 18 Julie uitgestel omdat die jeugdige nie by die hof was nie, en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming gelas is.

Die staat beweer dat Niklaas Witbooi (23), Jason Jantjies (24), Joseph Jantjies (18) en ’n 16-jarige jeudige wat in die sorg van sy pa geplaas is, op Maandag 8 Januarie 2018, by die plaashuis ingebars het nadat die eie­naar vertrek het om werkers huis toe te neem.

Hulle word aangekla van roof met verswarende omstandighede.

Die vier het die huis geplunder, geld geëis en met fietse, ’n skootrekenaar, selfoon, kontant en juwele op die vlug geslaan. Feitlik al die items is egter kort daarna deur die polisie teruggevind.

Streeklanddros Daniel Boks het Maandag ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die jeugdige gemagtig en die saak tot 18 Julie uitgestel.