Deur Garnett Wicomb
BORGTOG is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof geweier aan ’n vrou van Zoar naby Ladismith wat aan moord skuldig bevind en reeds gevonnis is, om vrygelaat te word hangende die uitslag van ’n petisie wat sy tot die hooggeregshof gerig het.
Sonia Jantjies is vroeër vanjaar skuldig bevind aan moord op haar man, Karel Jantjies (57), deur hom op 5 Augustus 2017 met ’n mes in die rug te steek.
Sy is op 13 April tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat sy skuldig gepleit en die hof afgewyk het van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar.
Jantjies het in ’n pleitverduideliking erken dat sy en die oorledene die betrokke dag baie gedrink het. Sy het in ’n dronkslaap verval en toe sy wakker skrik gesien dat hy nie tuis was nie. Sy is na haar buurvrou se huis om na hom te gaan soek.
Die buurvrou het haar glo uitgelag waarna sy die huis binne gegaan en haar man op ’n bed aangetref het.
“Ek het histeries geraak. Hy het niks verloor by ’n vrou wat nie ’n man het nie en ek het hom een keer gesteek. Ek het geweldig berou en is elke dag spyt oor wat ek gedoen het,” lui haar pleitverduideliking.
Streeklanddros Retha Pretorius het in haar uitspraak gesê dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees om borg toe te staan nie, gesien in die lig daarvan dat Jantjies aan die ernstigste misdaad, moord, skuldig bevind is.
Volgens die landdros sal dit skokgolwe deur die gemeenskap stuur indien sy vrygelaat sou word.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het borgtog teengestaan uit vrees dat Jantjies staatsgetuies sal beïnvloed, intimideer of moontlik kan vlug.
Hy het gesê die hof het reeds afgewyk van die voorgeskrewe vonnis en ’n aansoek om teen haar skuldigbevinding en vonnis te appelleer is reeds vroeër deur die hof geweier.