De Wet onskuldig

‘Saak moes nooit in hof gekom het nie’

’N SAKEMAN van Oudtshoorn wat aangekla is van diefstal, Bennie de Wet, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vrygespreek op al sewe aanklagte teen hom.
Streeklanddros Daniel Boks het De Wet se ontslagaansoek toegestaan.

De Wet se regs­verteenwoordiger, Vaughn Shone, het tydens sy betoog voor die hof gesê die saak moes nooit voor die hof gekom het nie.

De Wet is daarvan aangekla dat hy by sewe geleenthede in 2007 en 2008 altesame R863000 van die JJ Swart Testamentêre Trust gesteel het. Hy het egter die hof meegedeel dat dit lenings was wat deur die minderja­rige kinders se voog, Adri Swart, goedgekeur is en met volle rente terugbetaal is.

De Wet het in Augustus 2012 die laaste terugbetaling gedoen en altesame R926 889 terugbetaal.
Boks het in sy uitspraak daarop gewys dat Sakkie Basson, ’n boekhouer, sowel as Adri Swart, die klaer en voormalige werknemer van De Wet, se getuienis bevestig het dat dit lenings was.

Swart het getuig dat sy die geld met rente teruggekry het en onder kruisondervraging gesê dat sy nie beweer het dat De Wet die geld gesteel het nie.

Boks het onder meer bevind dat Swart weens haar vrye toegang tot die trustrekeninge te alle tye op hoogte was van wat daarin aangaan, dat sy leningsooreenkomste tussen haar en De Wet onderteken het en geweet het wat sy doen toe sy die ooreenkomste geteken het.

Basson het onder kruisverhoor getuig dat hy die geld wat na bewering gesteel was, as ’n lening in die opstel van die finansiële state aangedui het omdat dit aan “al die elemente van ’n lening” voldoen het.
De Wet het nie self getuig nie.

Geen bewyslas rus op De Wet om sy onskuld te bewys nie, het die landdros gesê.
“Niemand het skade gely nie en die hof bevind dat die staat nie genoeg getuienis gebied het wat tot sy skuldigbevinding kan lei nie. Die staat het nie ’n prima facie-saak teen die beskul­digde uitgemaak nie en daarom slaag die verdediging in sy aansoek en word die beskuldigde vrygespreek op al sewe aanklagte en ontslaan,” het Boks gesê.