De Rust-man vrygespreek op klagtes van oa menseroof

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Blomnek, De Rust, wat van menseroof, verkragting, aanranding om ernstig te beseer en gewone aanranding aangekla was, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof op die klagtes van menseroof en verkragting vrygespreek.

Streeklanddroshof Daniel Boks het bevind dat getuienis voor die hof daarop dui dat die 26-jarige Reagan Makoma nie sy voormalige meisie van haar vryheid ontneem het nie en dat sy ook vrywilliglik saam met hom na ’n begraafplaas gestap
het waar hulle met instemming gemeenskap gehad het.

Hy is egter skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer deur haar met ’n halwe baksteen in die gesig te gooi en aanranding gewoon deurdat hy haar geklap het.

Die landdros het bevind die vrou het vir Makoma gewag terwyl hy die betrokke aand saam met ’n vriend ’n bier gedrink het.

Toe sy die volgende oggend die opsigter van die begraafplaas, Karel Meswattie, by die hek raakloop, het sy vir hom ’n sigaret gevra en heel normaal voorgekom.

Sy het nie aangedui dat sy verkrag is nie Vonnisverrigtinge is op versoek van Makoma se regshulpprokureur, Brian Carelse, vir ’n korrektiewe toesigverslag tot 14 Junie uitgestel.

Makoma is in aanhouding.