Bejaarde wat aangerand is, te siek om te kan getuig

Landdroshof-Oudtshoorn-300x214
Deur Garnett Wicomb
’N BEJAARDE winkeleienaar van Stolsvlakte wat na bewering ernstig deur twee mans aangerand en beroof is, is volgens sy vrou te siek om teen die beskuldigdes te kom getuig.

Dit was gister in die Oudtshoorn Streekhof die getuienis van Cornelia Tredoux (70), eggenote van Frans Tredoux (75) wat glo op 29 Mei vanjaar deur Ronaldo Olkers en Koos van der Ross met ’n knopkierie oor die kop geslaan, met ’n mes ge­steek en van R200 kontant beroof is.

Hulle staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om erns­tig te beseer, maar pleit onskuldig.

Tredoux het getuig dat haar man dodelik siek en bedlêend is. Sy het voorts getuig dat Olkers en Van der Ross twee broers is wat voor haar en haar man grootgeword het. Volgens haar was sy en haar man die betrokke oggend in die huis besig toe hulle iemand vanaf die winkel hoor roep.

“Ek het die twee by die winkel sien sit waarna my man gesê het dat hy hulle sal gaan help. ’n Rukkie later het hy bebloed by die huis aangekom en haar meegedeel dat hy deur Olkers en Van der Ross aangeval is.”

Volgens haar is die geldlaai terug­gevind, maar nie die geld nie.

Kapt Johannes Nel van die Oudts­hoorn Polisie het getuig dat hy ’n dag nadat Olkers in hegtenis geneem is, ’n bekentenis van hom afgeneem het.

Daarin se hy dat hy vir Tredoux, wat hy “die oubaas” genoem het, in die gesig gestamp en getrap het.

“Jacobus het die oubaas eenkeer geslaan en my neef, Martin, het buite wag gehou,” lui Olkers se bekentenis.

Die saak dien voor streeklanddros Mark van Wyngaardt.