Deur Garnett Wicomb
’N NEGENTIENJARIGE man van Schoemanshoek buite Oudtshoorn wat aan die seksuele aanranding van ’n bejaarde vrou skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof onder huisarres geplaas en ’n opgeskorte vonnis opgelê.
Die hof het bevind dat Randal Swarts in April 2015 ’n 65-jarige vrou probeer verkrag het, maar nie daarin geslaag nie.
Swarts het onskuldig gepleit, maar hy is deur streeklanddros Daniel Boks skuldig bevind en vier jaar gevangenisstraf opgelê.
Dit is voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort.
Hy is ook tot ses maande korrektiewe toesig gevonnis. Dit behels huisarres vir 24 uur per dag, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, dat hy 16 uur per maand gratis gemeenskapswerk moet verrig. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkoholiese drank en dwelms en nie van adres verander sonder die kennis van ’n beampte van Korrektiewe Dienste nie.