So word Oudtshoorn tans skoongemaak

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE munisipale skoonmaakwerkers van Oudts­hoorn is sedert die begin van die boekjaar besig om die dorp letterlik van ’n kant af skoon te maak.

Harold Lekay, hoof van reinigingsdienste by die munisipaliteit sê 40 permanente en 43 tydelike werkers is aangestel om die dorp skoon te maak.

“Sedert sowat twee weke gelede het ons begin om die dorp van ’n kant af skoon te maak. Ons het by Rademeyerstraat begin en van daar af sal ons deur die hele dorp werk. Ons werk van suid na noord.”
Lekay het gereageer op ’n sms wat Die Hoorn vandeesweek ontvang het waarin ’n anonieme skrywer wil weet waarom “net sekere strate deur munisipale werkers gevee word”.

Die Hoorn het die sms aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie waarop Lekay dadelik bereid was om te reageer.

Lekay sê dat werkers daagliks die strate van Oudtshoorn skoonmaak en dat daar binnekort ten minste een keer ’n maand voor huise skoongemaak sal word.

“Ons maak eers die hele dorp skoon en dan sal ons die dorp in blokke verdeel sodat elke inwoner dieselfde gelyke diens ontvang.”

Lekay het inwoners na ’n spesiale klagtenommer verwys wat hulle kan bel. Kontak gerus Melissa Arries by 044 203 9300.