Byeenkoms bring groot geld na dorp

Deur Liesel le Roux
DIE ekonomiese rimpelings van ’n groot sportbyeenkoms soos die naweek se Klein Karoo Kampioenskap op die Arnold de Jager Ovaalbaan buite Oudtshoorn strek baie verder as wat mense vermoed.

’n Gesprek met Dirk van der Westhuizen wat jaarliks dié byeenkoms saam met sy span organiseer, sê inwoners van Oudtshorn besef nie in hoe ’n mate die dorp by groot sportbyeenkomste baat nie. “So ’n Sportbyeenkoms is ’n baie groot eko­no­mie­se inspuiting vir ’n plattelandse dorp soos Oudtshoorn.”

Van der Westhuizen sê die jaers en al die mense wat vir die kampioenskap na Oudtshoorn gereis het, het almal in verblyfplekke op die dorp oorgebly. “Smitswinkel, Best Little Guest House, die Oudtshoorn Inn, Kleinplaas en Cul de Sac was almal volbespreek, terwyl gaste ook oorgebly het in Victoria Guest House, NA Smit, El Dorado en Buffelsdrift. Maar dit is slegs die plekke waarvan ek weet; baie mense het elders bespreek.”

“Deur so ’n byeenkoms na ’n dorp te bring word op groot skaal werk aan plaaslike besighede verskaf, wat derduisende rande in die plaaslike eko­nomie pomp. Besighede wat ons gebruik het, is byvoorbeeld Van der Berg Vervoer vir die voorbereiding van die baan en watertrok, Volmoed Quarries vir 150 kubieke meter crusher dust, Wild Egg vir die maak van volstruiseierdoppe vir trofees, Weidi Houtwerk vir staanders vir die trofees, Proworx vir borde en graveerwerk, Timbercity waar sement en boumateriaal aangekoop is, Klein Karoo waar kalk, draad en kwaste gekoop is. Oudtshoorn Plant Hire waar ons proppe en scaffolding gehuur het, Tool Hire vir die huur van hamerbore, en Smitswinkel vir ’n kenmekaar Vrydag­aand waar die klub 200 kerrievetkoeke en Saterdagaand 150 hamburgers gekoop het.”

Hy sê die byeenkoms het ook verder plaaslike besighede ondersteun. Die program en toegangs­kaartjies is by Bowles Drukers gedoen, die NG Kerk Welgeluk het die hek beman en daarvoor ’n persentasie van die hekgeld ontvang wat hulle vir Bybelverspreiding gebruik, plakkers en papier is by PNA aangekoop, staal, kettings en slotte by Filco, toilette is deur Emmerich Loodgieters her­stel en ander toilette by Sanitech gehuur, veilig­heids­heinings is by Kunste Onbeperk gehuur, terwyl Audiobrooks die klankstelsel voorsien het en ook gebruik gemaak is van die dienste van Suiderkruis Sekuriteit, twee ambulanse met volle personeel en twee paramedici.

Van der Westhuizen sê hulle het ook teen betaling van petrol en verblyf 17 beamptes van buite na Oudtshoorn gebring om te help met die aanbieding van die byeenkoms asook ’n voltydse bemarker aangestel wat vanaf 12 Junie op sosiale media die kampioenskap bekend gemaak en Saterdag videos geneem en op sosiale media geplaas het. Hulle het ’n professionele videograaf betaal vir ’n video van die wedrenne en twee voltydse fotograwe wat foto’s vir sosiale media geneem het.

“Ook die dorp het verder gebaat. Besighede soos Midas, drankwinkels, slaghuise en vulstasies het uitsonderlike bedrywige dae beleef.

“By die kampioenskap was sewe stalletjiehouers waar mense onder meer vleis, hout, roosterkoeke, en ander kos en koeldrank verkoop het.

“Daar is ook vir 15 werkdae tussen vier en agt arbeiders uit die gemeenskap gehuur om ’n verskeidenheid take teen ’n dagloon te verrig.”

Verskeie besighede het ook gratis hulp met die kampioenskap verleen.

Van der Westhuizen sê hy en sy span is baie dankbaar vir ’n suksesvolle kampioenskap wat jaar na jaar groei.