Saamgewerk op Mandeladag om rivier skoon te maak

Min mense wat oor die Voortrekkerwegbrug oor die Grobbelaarsrivier ry, weet watter gemors daar onder die brug lê. Hier is skoonmakers van die Oudtshoorn Munisipaliteit Dinsdag, gewapen met rubberstewels, handskoene, gesigsmaskers en swartsakke, wat die hope vullis opgetel het. Foto’s: Schalk le Roux

Hierdie gipsafdrukke vir valstande is een van die buitengewone items wat Philip Goets van die Oudtshoorn Rotariërs Dinsdag tydens die Mandeladag-skoonmaak-veldtog uit die Grobbelaarsrivier gehaal het. Goets, wat Dinsdagoggend al voor 09:00 met sy duikpak die river binnegevaar het om skoon te maak, het ook die dop van ’n rekenaarskerm en die pote van ’n kantoorstoel uit die rivier gehaal.
Deur Schalk le Roux
VERSKEIE organisasies en besighede op Oudts-hoorn het Dinsdag op Mandeladag kragte saam-gesnoer om die vullis wat die Grobbelaarsrivier ontsier te verwyder. Die rivier vloei van noord na suid deur die dorp en was veral by straatkruisings erg bemors en besoedel.
Die skoonmakers het Dinsdagoggend 08:30 in St Johnstraat by die rivier byeengekom van waar hulle na verskillende plekke beweeg het om skoon te maak. Die middag teen 15:00 is daar sowat 260 swartsakke vol vullis uit die rivier gehaal.
Die projek is deur die Oudtshoorn Rotariërs en Dryland Event Management geïnisieer waarna die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Cango Wildlife Ranch genader is. Albei het onmiddelik ingestem om hul volle gewig agter die projek in te gooi.
Die munisipaliteit het onder leiding van Christiaan McGear, superintendent: parke, en Harold Lekay, hoof: reinigingsdienste, meer as 30 skoonmakers met waterstewels en maskers asook ver-skeie voertuie beskikbaar gestel om met die skoonmakery te help. Die Cango Wildlife Ranch het 20 buitelandse vrywilliers beskikbaar gestel asook ’n aantal voertuie. ’n Aantal inwoners van Oudtshoorn het ook vrywillig kom hand bysit.
Philip Goets van die Oudtshoorn Rotariërs het die taak baie ernstig opgeneem en het al voor 09:00 met sy duikpak – om hom teen die koue te beskerm – die rivier tussen St Johnstraat en die voetgangerbruggie wes van die Queen’s Mall ingevaar.
Onder die vreemde artikels wat hy uit die water gehaal het, was ’n dop van ’n rekenaarskerm, die pote van ’n kantoorstoel en twee gipsafdrukke wat vir die maak van valstande gebruik word. ’n Pasiënt se naam was duidelik leesbaar op die agterkant van die een gipsafdruk.
Sowat 100 soldate van die Oudtshoorn Infanterieskool het ook die oggend by die rivier opgedaag om hulle 67 minute vir Mandela te gebruik om die rivier te help skoonmaak.
Teen 15:00 Woensdag het die rivier, rivierwalle en aangrensende gebiede netjies en skoon gelyk.
’n Mens kon ’n goeie idee kry watter sierraad die rivier vir Oudtshoorn kan wees as dit skoon en netjies in stand gehou word.
Die Rotariërs het aan die einde van die skoonmakery vir elke skoonmaker ’n bakkie kerrie-en-rys gegee as ’n blyk van waardering.
Suné Rupping, president van die Oudtshoorn Rotariërs, het almal wat gehelp het van harte bedank. “Ek wil graag ’n spesiale woord van dank rig aan Christiaan McGear en Harold Lekay. Hulle het die skoonmaakveldtog daadwerklik ondersteun en dit was ’n voorreg om met hulle saam te werk.
“Dankie ook aan Hugo du Plessis van Cango Wildlife Ranch vir die klomp mense wat hy beskikbaar gestel het en Henco Rademeyer van Dryland Event Management vir sy insette. Die sukses van die skoonmaakveldtog is ’n bewys daarvan dat ons deur saam te werk ’n groter verskil kan maak!” het sy gesê.
Die volgende uitdaging is nou om die rivier skoon te hou.