Deur Ilze-Mari Gründling
DANKSY die flink hulp van die Oudtshoorn Polisie en die Noordstraat-straatkomitee het op Saterdag daartoe bygedra dat ’n vermiste volwasse inwoner van die Eljada Sorgsentrum in Victoriastraat gevind is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die 43-jarige man omstreeks 14:00 vermis geraak en het werknemers van die sentrum na hom begin soek. Hy was vermoedelik in die veld agter die sentrum en die sentrum het die polisie se hulp ingeroep.
Die sektorbevelvoerder het die Noordstraat-straatkomitee se hulp ingeroep en mense het te voet en met voertuie en ’n motorfiets begin soek.
Die man is sowat twee ure later bewusteloos in die veld agter die sentrum opgespoor. Hy is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem waar hy steeds behandel word.
Volgens brig Levona Januarie, polisiebevelvoerder op Oudtshoorn, het die hulp van die straatkomitee baie gehelp om die man op te spoor.
“Nodeloos om te sê dat die man heel waarskynlik nie die koue van Sondagnag sou oorleef het nie.”
Januarie sê die belangrikheid en waarde van straatkomitees is deur die voorval beklemtoon. Sy het almal wat betrokke was, bedank.
Die bestuurder van die Eljada Sorgsentrum, Wilma Lemmer, het ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die polisie en straatkomitee wat die man in yskoue weer gevind het.