DAAR was onlangs groot vreugde by die Sonskynhoekie Kleuterskool in Bridgton toe ’n groot hoeveelheid papbestanddele deur die Wes-Kaapse Stigting vir Gemeenskapswerk by die skool afgelewer is.
Volgens die projekbestuurder van Suid-Kaap Familie in Fokus, Landré Januarie, is die bestanddele ’n skenking van ’n nasionale organisasie, Joint Aid Management (JAM), en sal dit vanaf Sonskynhoekie versprei word na 16 vroeëkindontwikkelingsentra en kleuterskole in Smartie Town, die GG-Kamp, Bongolethu, Bridgton, Toekomsrus en Rose Valley.
“Ons praat van sowat 1 500 kinders en meer as 600 kinders op Oudtshoorn,” sê Januarie.
Volgens hom sal Familie in Fokus se 19 vrywillige tuisbesoekers geïdentifiseerde behoeftige huishoudings besoek en sorg dat die kinders ’n bakkie pap nuttig en nie op leë mae skool toe gaan nie. Die pap word in spesiaal gemerkte bakkies geskep en is volgens Januarie baie voedsaam.
Die hoof van Sonskynhoekie, Hester Wonderlik, sê die skenking is soos “manna uit die hemel” in die moeilike omstandighede van vandag en die Covid- pandemie.
Die voorraad sal volgens Januarie elke drie maande deur die Stigting aangevul word. (Deur Garnett Wicomb)
Vreugde oor papbestanddele vir honderde kleuters
Hester Wonderlik (middel voor), hoof van die Sonskynhoekie Kleuterskool, en personeellede saam met tuisbesoekers van Oudtshoorn Familie in Fokus by sakke papbestanddele en bakkies. Foto: Garnett Wicomb