Veg en Bou-week | 13-18 Mei 2023

Trauma Opleiding – 13 Mei

Die week het begin met praktiese opleiding vir traumabystanders na hul afhandeling van ’n maand se aanlyn teoretiese opleiding. Daar is 6 persone van die Oudtshoorntak opgelei – 1 span uit Oudtshoorn en 1 span uit De Rust. Die 2 spanne sal saamwerk met die Buurtwagte waar traumabystand benodig word. Die opleiding is aangebied deur Johan Kloppers en Izel Kruger van AfriForum Hoofkantoor.

Tema: Hoe veilig is ons nog in SA? – 15 Mei

’n Paneelbespreking onder leiding van Johan Kruger (AfriForum Strategiese Raadgewer – Gemeenskapsake), met paneellede Raymond Hohls (Veiligheids-voorsitter van AfriForum Hoofkantoor), Nick Arnold (Hoof van Forum Sekuriteit), David Olivier (Veiligheid-spesialis van AfriForum), Johan Kloppers (Trauma AfriForum Hoofkantoor) en Gen Roland de Vries.

Daar is veral klem gelê op die talle veiligheidsrisiko’s wat vandag in die land heers en wat ook sal uitbrei na ons rustige dorp. Ons moet ons mense paraat kry om die gevare die hoof te bied. Alhoewel dit tans redelik veilig is in Oudtshoorn, is kriminele elemente besig om hierheen uit te brei, veral om hul besigheid, misdaad, hier te kan bedryf.

Nuttige praktiese wenke is met die gehoor gedeel. Verskeie vrae is beantwoord deur kundiges. Brig Susan Crafford, SAPD hoof van Oudtshoorn, gee ’n oorsig oor die situasie in Oudtshoorn. Johan Conradie, Oudtshoorn takvoorsitter, gee ’n uiteensetting van die buurtwagte in Oudtshoorn en De Rust. Dit word duidelik gestel dat die SAPD, buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, wetstoepassers en verkeer baie nou moet saamwerk.

Johan Kloppers deel gedagtes oor AfriForum Trauma se bystand oor die hele land, ook by hofverrigtinge.

Tema: Is ekonomiese oorlewing en ’n welvarende landboutoekoms moontlik in SA? – 16 Mei

‘n Paneelbespreking met Raymond Hohls as gesprekleier. Die paneellede: Jaco Kleinhans (Solidariteit Internasionale Skakelbeampte), Tiaan Theron (Karooboer) en Laubscher Coetzee (Agri Weskaap en Volstruisboer).

Dit is duidelik uit die besprekings dat landbouvolhoubaarheid wel moontlik is in ’n land waar daar soveel aanslae uit verskeie oorde teen boere gemaak word. Jaco Kleinhans verduidelik dat dié tendense oor die hele wêreld voorkom, maar dat daar oral deur samewerking tussen gemeenskappe, privaatmaatskappye en ook staatsdepartemente na oplos-sings gesoek word. Al drie die paneellede is kundiges oor die probleme en positiewe punte wat wel op die gebied van landbou bestaan, word duidelik uitgelig.

Raymond Hohls verwys ook na die veiligheid van die boere op die plase wat opgeskerp moet word.

Die moontlikhede van hernubare energie word bespreek, want almal besef die regering gaan nie boere help nie. Beurtkrag veroorsaak baie krisisse en boerderye word op verskeie maniere nadelig geraak deur die gedurige kragonderbrekings. Suid-Afrika is ’n diverse land, maar dis geen verskoning om nie ’n plan te maak en self te sorg nie.

Jeugtema: Omgewingsbesoedeling in my woonbuurt – 17 Mei

Graad 5 leerders: Maak ’n A3-plakkaat oor besoedeling in hul eie omgewing. Graad 6 leerders: Maak ’n speelding uit rommel. By elke skool kies die onderwysers 3 wenplakkate en 3 wenspeelgoed. Verskeie laerskole is genooi, waarvan 6 aan die kompetisie deelgeneem het.

Die wenners uit elke skool, tesame met hul onderwyser, het deelgeneem aan ‘n speletjiesdag, waar die onderwysers en 3 dames van Helpende Hand die inskrywings beoordeel en die finale 3 wenners in elke kategorie aanwys. Al die inskrywings word in die C.J. Langenhoven Gedenkbiblioteek uitgestal. Dalena Conradie, sekretaresse Oudtshoorntak, lewer ’n praatjie oor besoedeling in elke omgewing/woonbuurt en wat gedoen kan word om afvalmateriaal te gebruik vir speletjies, bruikbare items, geskenkies, selfs versierings. Die belangrikheid van bome vir die mens en omgewing ook in jou eie werf, word beklemtoon. Leerders neem lewendig deel aan die besprekings.

’n Bewys dat speletjies nie altyd gekoop moet word nie, gebruik dinge in jou eie huis. Die leerders het met oorgawe deelgeneem en ’n goeie sportmansgees het geheers. Die skolewenners het ’n prys en sertifikaat ontvang. Die algehele wenners het ’n ekstra prys en sertifikaat ontvang.

Tema: Landsake / Motivering – 18 Mei

Morné Mostert, Plaaslike Regering hoof by AfriForum Hoofkantoor het verrigtinge begin met die tema: Moets en moenies van ’n plaaslike regering is op ’n interessante wyse bespreek, ook AfriForum se rol en betrokkenheid by plaaslike regerings. Hy verwys na die belangrikheid van die ouditering van vullisterreine reg-oor die land, asook die blou- en groendruppel watertoetse. Hy verwys ook na die hulp wat AfriForum aan gemeenskappe bied.

Mnr Chris Macpherson, Oudtshoorn se burgemeester, lewer ’n gesprek oor huidige en toekomstige ekonomiese ontwikkeling in die Klein Karoo. Dit is duidelik dat daar buite die spreekwoordelike “boks” gedink word om Oudtshoorn weer te herstel van agteruitgang en verwaarlosing van ’n hele klompie jare.

Johan Lubbe van Akademia, George satelietkampus, verduidelik hulle planne vorentoe vir uitbreiding en verdere ontwikkeling, die bou van ’n nuwe universitieit, wat hulle alles aan hulle studente bied, ook dat Akademia se opleiding oor die hele wêreld gebruik kan word en geakkrediteer is. Akademia bied voltydse studies by die kampusse aan asook aanlynkursusse.

Hannes Noëth, Hoof Helpende Hand, lewer ’n roerende toespraak oor die voetspoor van Helpende Hand in gemeenskappe. Sy verwysing is dat mense gehelp/opgelei moet word om in die toekoms na hulself te begin kyk en nie altyd wag vir iemand anders om iets vir hom/haar te kom doen nie. Hy verwys ook na geleenthede wat deur Helpende Hand geskep word vir studenteopleding en wys foto’s van infrastruktuur wat reeds in plek is.

Heindrich Wyngaardt, Hoof Kaapse Forum, praat oor dieselfde onderwerp. Hy verduidelik die werk van die Kaapse Forum. Hy verwys na die verworwe ondervinding in die agtergeblewe gemeenskappe, tiener-swangerskappe, dwelm- en alkoholmisbruik. Daar wag ’n groot opvoedingstaak, ook om mense bewus te maak dat hulle selfversorgend kan wees.

Kallie Kriel (Hoof AfriForum) was aan die woord met ’n gesprek ook gemeenskapsfederalisme. Ook hier is verwys na die rol wat selfdoen in die toekoms in gemeenskappe gaan speel. Interessante inligting is uitgelig oor die toestand van die land en hoe dit te bowe gekom kan word. Daar is verwys na die korrupsie wat die land verarm, wat ook die oorsaak is van beurtkrag, wat ’n vernietigende uitwerking op die land se ekonomie het.

’n Paneelbespreking volg met Morné Mostert as gespreksleier. Paneellede was Kallie Kriel, Raymond Hohls en Johan Lubbe. Die tema: Afrikaner en Afrikaans se plek in die wêreld. Daar is steeds ’n bestaansreg vir die taal in die land, al is daar soveel bedreigings en aanslae teen die taal.

Die boodskap is duidelik: ondanks kritiek en aanvalle, sal die Afrikaner opstaan, soos bewys word deur AfriForum, Soltech, waar uitstekende ambagsmanne opgelei word, Akademia (universiteit) en Helpende Hand.

Die dag is afgelsuit deur pragtige liedjies deur sanger Michael Lindt en ’n dinee.

AfriForum se Oudsthoorntak bedank die volgende persone/besighede/instansies:
Sprekers uit Pretoria en Kaapstad asook plaaslike sprekers. Ds Andries Potgieter wat 3 geleenthede geopen het met ’n gepaste boodskap. Elke persoon wat die verskillende geleenthede bygewoon het. Die takbestuur en elkeen wat betrokke was by die reëlings van die suksesvolle week. Die skoolhoofde van die laerskole wat hul leerders toegelaat het om aan die Jeugkompetisie deel te neem. Die vyf leerders van Langenhoven Gimnasium se gasvryheidsklas wat tydens die dinee as kelners opgetree het. Nostalgie vir die lekker etes wat Maandag en Dinsdag voorgesit is. Oudtshoorn Inn se vriendelike personeel wat die ekstra myl geloop het.

Die volgende borge word bedank:
Boshoff Skroot, Calitzdorp Wynkelder, Cobus Pretorius, De Krans Wynkelder, Du Plessis Motors, Grundheim, Hendrik Schoeman, Mark Collins, Oudsthoorn Munsipaliteit, National Glass, Oudsthoorn Groentemark, Oudtshoorn Inn, Oudsthoorn Spar, PNA, Steers en al ons anonieme skenkers.

Die grootste dank aan ons Hemelse Vader, wat die week ’n groot sukses gemaak het. Soos ’n persoon wat die week bygewoon per whatsApp gesê het: “Baie dankie, ons het dit so geniet, dis so ’n ordelike goeie geleentheid. Die sprekers het ook gewys dat hulle diensknegte van ons Skepper is. Daar was geen opswepery en voortvarendheid nie.”

Indien u betrokke wil raak by die AfriForum se Oudtshoorntak, kontak Johan Conradie 071 149 9714.