JODI POTGIETER, ’n graad 11-leerder by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, het onlangs ’n prys by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ontvang vir haar vernuf in rekeningkunde.
Volgens Potgieter se rekeningkunde-onderwyser, Helouise Pretorius het die distriksvakadviseur aan die begin van die jaar besluit om die top-kandidaat in die vak in elke kwartaal te identifiseer, waarvoor die spesifieke leerder dan ’n toekenning ontvang. Pretorius sê daar is ongeveer 60 skole in die spesifieke distrik waarin Langenhoven Gimnasium, en skole op Oudtshoorn, val.
Volgens Pretorius was Potgieter die top-kandidaat in die eerste kwartaal – dit uit skole soos Hoërskool Outeniqua, Punt, Oakdale en Hoërskool Riversdal. “Hulle is almal baie sterk skole,” voeg sy by.
Potgieter het ’n gemiddeld van 99% vir rekeningkunde ontvang, wat volgens Pretorius ’n uitstekende prestasie is. “Jodi is ’n wonderlike leerder, en haar prestasie het eintlik baie min met my te doen. Sy werk ongelooflik hard, buiten haar natuurlike vermoë om die vak te verstaan. Dit is ’n baie goeie inisiatief van die WKOD se vakadviseur.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Graad 11-leerder van Langenhoven Gim wen rekeningkunde-prys
Helouise Pretorius (onderwyser) en Jodi Potgieter. Foto verskaf