Skenking aan Zeekoegat Primêr

Vanessa Engelbrecht (regs) van Safari Volstruisplaas, ontvang ’n skenking vir Zeekoegat Primêr van Joey Potgieter (naasregs), voorsitter Agri Klein Karoo. By hulle is Linda Pretorius (links),skoolhoof, en leerders van die skool.    Foto: Ilze-Mari Gründling

Vanessa Engelbrecht (regs) van Safari Volstruisplaas, ontvang ’n skenking vir Zeekoegat Primêr van Joey Potgieter (naasregs), voorsitter Agri Klein Karoo. By hulle is Linda Pretorius (links),skoolhoof, en leerders van die skool. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DRIE organisasies van Oudtshoorn, naamlik Agri Klein Karoo, die Oudts­hoorn Besigheidskamer en Oudtshoorn en De Rust Toerisme het Maandag, 21 Augustus, R2000 aan Zeekoegat Primêr wat by die Safari Volstruisplaas geleë is, geskenk.

Die organisasies het 1 Augustus vir die eerste keer ’n gesamentlike netwerk-aand gehou waartydens kaartjies verkoop is vir gelukkige trekkings. Die doel hiervan was om geld in te samel vir twee instansies op Oudtshoorn – Zeekoegat Primêr en Helen Bellinghanhof. Lede van die Oudtshoorn Besigheidskamer het die pryse geborg.

Altesaam R4 000 is ingesamel deur kaartjie­verkope. Die fondse word tussen die skool en Helen Bellinghanhof verdeel.

Volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van Oudts­hoorn en De Rust ­Toerisme, bestaan ’n trust vir die skool van meer as 100 kinders. “Safari Volstruisplaas en die Zeekoegat Gastehuis het as ’t ware die skool aangeneem en ’n trustfonds geopen. Deur dié fonds kry die kinders daagliks etes, klere, skryfbehoeftes en enigiets anders wat hulle be­nodig.

“Met hierdie oorhandiging wil ons graag vir almal wat bygedra het tot die kaartjieverkope wys presies waarheen die geld gaan en wat by die skool gebeur. Ons is baie dankbaar.”