Polisie besoek Dogs in Need en Kanaalweg

Kapt Ronel Westraad stap met een van die honde van Odin tydens ’n besoek op Mandeladag. Foto verskaf

DIE administratiewe personeel van die Oudts­hoorn Polisie het tydens Mandeladag verskeie skenkings gedoen aan twee dierewelsynorganisa­sies en ook Kanaalweg besoek waar lekkers aan die kinders van die straat en kos aan van die honde gegee is.

Die personeel het vooraf onder die leiding van kapt Ronel Westraad by drie geleenthede geld ingesamel met verkope en ’n bedrag van meer as R3 200 ingesamel. Met die geld is 200 blikke kos gekoop vir veral siek diere asook koeldrank en kos vir die werkers by Oudtshoorn Dogs in Need (Odin). ’n Kontantskenking is ook aan die Animal Care Team (ACT) oorhandig vir ’n operasie op ’n hond.

Tydens die besoek aan Odin het personeel met van die honde gaan stap.

In Kanaalweg is ’n siek hond wat die eienaar nie meer kon versorg nie aan die polisie oorhandig wat dit op hul beurt na Odin geneem het.

Net soos Mandela vir 67 jaar ’n impak op die Wêreld gemaak het so het die die lede ’n impak gemaak met hulle 67 minute se besoek aan ODIN.