By die oorhanding was voor van links Pat Blaauw (Oudtshoorn munisipaliteit), Melissa Brown, Erna Wagenaar, Deidre Carelse en Nonzwakozi Molo (biblioteekpersoneel), Noluthando Mwati (onderburgemeester), Nellie Soman (voorsitter: Gemeenskapsdienste), Phumla Mfuku (biblioteekpersoneel) en Louis Booysen (munisipaliteit). Agter van links is Tommy Matthee (direkteur gemeenskapsdienste), Lluwellyn Coetzee (senior be- stuurder: strategiese dienste) en Niklaas van Hansen (Bridgton Biblioteek). Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE Oudtshoorn munisipaliteit het ter viering van Internasionale Mandeladag opvoedkundige speelgoed aan biblioteke op Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp oorhandig wat aan kleuterskole beskikbaar gestel sal word. Die burgemeester het ook uit eie fondse 40 komberse aan elk van drie kleuterskole op Schoemanshoek, De Rust en Volmoed geskenk.
Die onderburgemeester, Noluthando Mwati, het tydens die oorhandiging haar teleurstelling uitgespreek oor die afwesigheid van verteenwoordigers van Vroeëkind-ontwikkeling (ECD).
Volgens haar het wyle pres Mandela sy bes probeer om almal te motiveer om iets goeds in hul gemeen- skappe te doen. “Ons moet voortgaan om te werk tot die verbetering van al Oudtshoorn se inwoners,” het sy gesê.
Nellie Soman, raadsvoorsitter van die gemeenskapsdienste-portefeuljekomitee, het gesê alhoewel die munisipaliteit se finansiële posisie nie so goed is nie, alles gedoen word om ’n bydrae tot die opvoeding van die jeug te lewer.
Sy het ook die hoop uitgespreek dat ’n sterker band tussen die munisipaliteit en die ECD gebou kan word.
Volgens Lluwellyn Coetzee, senior bestuurder: strategiese dienste, het die munsipaliteit besluit om opvoedkundige leermateriaal vir die bevordering van veral wiskunde en natuur- wetenskappe te skenk en hoop dat Oudtshoorn meer dokters en wetenskaplikes kan oplewer.
Hy het die hoop uitgespreek dat die projek ‘n groot sukses sal wees en die versekering gegee dat die munispaliteit dit sal fasiliteer.
Die direkteur van gemeenskapsdienste, Tommy Matthee, het gesê hy is opgewonde oor die program en die hoop uitgespreek dat dit uitgebrei sal kan word.