La Plume takel plastiek

Personeel van La Plume, ’n gastehuis in Volmoed, op Mandeladag met hul nuwe lap-inkopiesakke waarmee hulle voortaan hul inkopies gaan doen. Foto verskaf

LA PLUME, gastehuis van Bartel en Karin du Toit in Volmoed buite ­Oudtshoorn, het Mandeladag vanjaar gevier deur die fokus te laat val op die vermindering van hul koolstofvoetspoor en ook van die gebruik van plastiek. Dié boodskap het hulle ook na die Volmoed-gemeenskap uitgedra.

Personeel van La Plume het elkeen die dag lap-inkopiesakke ontvang vir toe­koms­tige inkopies. Personeel mag ook geen plastiek meer na die gastehuis bring nie.

Dit is La Plume se missie om teen 2020 “first use plastic free” te wees.

Lapsakke met inkopies is ook aan lede van die gemeenskap van Volmoed oor­handig. Hulle is gevra om saam te werk en hande te vat sodat die omgewing skoon en plastiekvry gehou kan word.

Daarna het La Plume se hele personeel ingespring en 32 swartsakke vol rommel in die gebied opgetel.

Karin sê hierdie is ’n langtermyn-projek vir die gastehuis en sy personeel. “Ons gaan weekliks met die kinders van die gemeenskap werk en is baie opgewonde om hierdeur ’n verskil te maak. Ons is trots en dankbaar teenoor ons personeel wat 100% ingekoop het in hierdie projek.”